Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Stigter van kerk sê hy is Christus

Xandré Strydom(middel), stigter en uitvoerende hoof van Christ In Me International, by leraars van die kerk.
’n Erediens van Christ In Me International in Pretoria-Oos.
Xandré Strydom, stigter en uitvoerende hoof van Christ In Me International, preek tydens ’n diens van dié kerk.
Christ In Me International se hoofkantore in ’n winkelsentrum naby die Silver Lakes- gholflandgoed. Foto: Elaine Swanepoel

Die tonge is los oor ’n charismatiese kerk wat veral gewild is onder jong mense in Pretoria waar lidmate voor die kerkleier buig en aangemoedig word om te skei as hul wederhelf nie met die kerk se bepalings saamstem nie.

Christ In Me International (CIMI), met takke oor die hele Gauteng en in dele van Limpopo, se leier noem homself Christus en lede moet ’n verbond sluit om te sê hulle is gehoorsaam aan hom en sal nooit die kerk verlaat nie.

Volgens voormalige lidmate moet jy eers “toestemming” kry by die kerk voor jy ’n huis koop of ’n kind kry en moet jy liefs van jou maat skei as dié nie saamstem met die boodskap wat CIMI verkondig nie.

Lidmate word ontmoedig om te spaar vir aftrede en moet eerder al hul geld vir die kerk gee. Hul maatskappye moet ook verkieslik deur die kerk beheer word.

In preke op CIMI se webtuiste verwys Xandré Strydom, stigter en “hoof uitvoerende beampte”, na homself as “Christus” en sê die Here het hom aangestel as “beide ons Dawid en Josua tipe”.

“Ek glo almal wat gesalf is met God se gees, is ’n Christus. Daarmee sê ek nie ek is Jesus Christus nie, maar net ‘soos’ hy,” het die 33-jarige Strydom die afgelope week aan Rapport gesê.

Maar drie families van lidmate en verskeie mense wat voorheen betrokke was by CIMI, meen die kerk is niks anders as ’n sekte nie en dat Strydom besig is om lidmate van hul familie te vervreem.

Strydom sê hy weet nie hoeveel “ledemate” (sic) hulle het nie en dis nie vir hulle belangrik nie. Die hoofkantoor is naby Silver Lakes in Pretoria-Oos.

Die kerk het verlede jaar eers amptelik tot stand gekom, maar Strydom verkondig sy boodskap al sedert 2011 tydens Bybelstudies en in selgroepe.

“Tydens die kerk se openingsdiens is Xandré as koning van die kerk gekroon en gemeentelede moes voor hom buig,” sê ’n bron wat vier jaar lank by die kerk betrokke was.

Hy wou nie sy naam bekend maak nie uit vrees vir intimidasie.

Strydom sê hy het nooit enigiemand aangesê om voor hom te kniel nie en dat dit spontaan gebeur het. “Ek het ’n profetiese woord ontvang jare gelede dat God my as ’n koning Dawid kom salf het.”

Hy is geskei en het vier klein kinders.

Benewens Strydom is daar agt leraars of “meesters”, almal wit mans, wat God se opdragte aan Strydom moet uitvoer.

Volgens bronne is die kerkgangers meestal jong mense tussen die ouderdom van 20 en 35.

“Ek en my gesin is sedert 2013 in die kerk en ry elke Sondag van Heidelberg na Pretoria om die dienste by te woon,” sê Jaco de Bruin. “Ek was al lidmaat van die Gereformeerde Kerk en die AGS en in albei het die dominees goed gepreek wat nie in die Bybel staan nie”. Hy sê hy het nou “absolute waarheid gevind”.

“In die wêreld waarin ons leef het ons meer vrae as antwoorde,” sê Carel Kriek van Pretoria.

“In my 35 jaar in die kerk het ek nooit werklik antwoorde gekry op my vrae nie. Toe ek by Christ In Me aansluit, het my lewe verander en ek het al die antwoorde op my vrae gekry.”

As jy vir Strydom glo, het die wederkoms reeds plaasgevind en is dit nou sy en sy dissipels se taak om hemel op aarde te bewerkstellig. Die kerk glo nie in die doop, nagmaal óf die drie-enige God nie.

“Dis ’n sekte, maar as jy dit durf sê, dreig hulle om jou hof toe te sleep vir laster,” sê die bron.    

 Hy sê die bestuur van die kerk het destyds beoog dat lede almal hul salarisse direk aan die kerk betaal en die kerk sou dit dan onder lede verdeel “sodat almal in die rykdom van die Koninkryk kan deel”. Hy weet nie of dit steeds hul plan is nie.

“Xandré het ontsettende charisma en sal enigiemand oortuig om vir hom geld te gee. Mense eet als wat hy sê op soos soetkoek.”

’n Ma van ’n vrou wat by die kerk betrokke was, sê Xandré het haar dogter, ’n “baie suksesvolle bemarker”, en haar man glo oortuig om hul nuwe huis in Nelspruit te verkoop en hulle by die kerk in Pretoria aan te sluit. Die paar se ouers kon betyds daar ’n stokkie voor steek.

Strydom sê hy het nooit iemand oorreed om hul huis te verkoop en Pretoria toe te trek nie en dat dié paartjie in elk geval na Pretoria getrek het.  

Nog ’n gewese lidmaat sê die kerk spits hom juis toe op welvarende lidmate wat baie vir die kerk kan gee.

“Wanneer jy by die kerk aansluit, moet jy jou begroting aan die kerk voorlê sodat die bestuur kan bepaal hoeveel jy moet gee. Daar is party mense wat tot R75 000 ’n maand aan die kerk betaal.”

Die bron sê enige langtermyn­spaarplanne moet gestaak word, want “God sal voorsien”.

Strydom, wat self in ’n gegoede buurt in Pretoria-Oos woon, erken dit en sê mense word deur die wêreld gekondisioneer om af te tree en dis nie ’n skriftuurlike beginsel nie. “Mense moet eerder hul finansies vir die uitbreiding van God se Koninkryk gebruik.”

Strydom ontken dat die kerk gesinne opbreek, maar sê “niks, selfs nie jou huwelik, mag in die pad kom van jou verhouding met God en sy plan met jou lewe nie”. 


elaine.swanepoel@rapport.co.za

“Tydens die kerk se openingsdiens is Xandré as koning van die kerk gekroon en gemeentelede moes voor hom buig.” – ’n Bron wat vier jaar by die kerk betrokke was.

“Toe ek by Christ In Me aansluit, het my lewe verander en ek het al die antwoorde op my vrae gekry.”

– Carel Kriek van Pretoria.

Meer oor:  Pretoria  |  Kerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.