Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Stigterslid van ‘Rapport’ sterf

Die koerantman Phil Zaayman (78) is Maandagoggend dood ná ’n uitgerekte stryd teen demensie.

Hy was jare lank ’n sportjoernalis en was stigterslid van Rapport, asook sportredakteur.

Phil Zaayman is Maandagoggend in die ouderdom van 78 oorlede.

Zaayman is Maandagoggend in ’n versorgingseenheid in Hermanus dood, sê sy vrou, Louise.

“Demensie is ’n lang, uitgestrekte siekte, maar dit het die laaste jaar vererger. Ek het hom ’n jaar lank tuis versorg voordat hy in Desember na ’n versorgingsoord is,” het sy Maandag by navraag gesê.

“Ons sou hom vanoggend nog gaan haal het, maar toe het Jesus ons voorgespring.”

Sy sê haar man is nou op ’n beter plek en dat die siekte nie goed was vir hom nie.

“Hy was ’n mense-mens en het altyd stories gehad om te vertel. Sy kinders was baie lief vir hom. Hy was ’n kind van Jesus en ons weet waar hy nou is.”

Bokkie Gerber, ’n oudkollega en oudredakteur van Rapport, sê Zaayman het in die sestigerjare by die Oosterlig in Port Elizabeth gewerk.

Hy was een van die medestigters van Rapport in 1970. Sedertdien het hy daar gewerk, onder meer as sportredakteur en ’n hoofredaksielid.

Hy het in 2000 afgetree, ná ’n loopbaan van byna 40 jaar, waarna hy en Louise in Hermanus gaan woon het.

Gerber, wat vir 30 jaar saam met Zaayman gewerk het, sê hy was een van die land se bekendste sportskrywers oor veral oor rugby en boks.

“Hy het in die 70’s en 80’s oor feitlik al die Bokke se toetse verslag gedoen en was ook altyd langs die kryt om oor Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Mike Schutte, Charlie Weir en Brian Mitchell berig te lewer.”

Phil Zaayman was een van die stigters van Rapport en het dekades daar gewerk voordat hy afgetree het. Foto: Wessel Oosthuizen

Gerber vertel verskeie staaltjies van die tyd toe hy saam met Zaayman gewerk het.

“Toe ons saam vir Rapport in 1980 verslag gedoen het oor die toetsreeks hier teen die Britse Leeus het ek gesien en beleef hoe hy in die hotelkamer sit en beriggewing aan die tikster op kantoor dikteer vanaf notas wat hy van sy onderhoud op die agterkant van sy Van Rijn-20-sigaretboksie gemaak het.”

Hy sê baie jong sportskrywers het by hom geleer en hom nagevolg omdat hy goed was in wat hy gedoen het – of dit nou rugby of boks was.

Nóg ’n staaltjie oor Phil was die keer toe bomspesialiste in Nieu-Seeland na die Springbokke se hotel ontbied is om ’n ongeïdentifiseerde voorwerp in die hotel se voorportaal te verwyder.

“Hulle het Phil se tikmasjien opgeblaas omdat hulle gedink het dis ’n moontlike bom.”

Gerber sê Zaayman was skerp, veelsydig en hy het die gawe gehad om met sy humorsin gespanne oomblikke te ontlaai.

“Hy was omtrent almal se vriend omdat hy altyd net goed wou doen en altyd iets snaaks te sê gehad het.”

Gerhard Burger, oudsportredakteur van Vaderland en die laaste redakteur van Die Transvaler, was vir meer as 50 jaar vriende met Zaayman.

“Hy was ’n goeie koerantman en ’n aangename vriend. Ek het sy humorsin altyd waardeer. Hy het ook ’n uiters goeie algemene kennis gehad, veral oor politiek en geskiedenis.”

Zaayman word benewens sy vrou deur sy seun, Phillip, sy dogter, Lizl, en sy vier kleinseuns oorleef.

Zaayman sal Saterdag om 10:00 begrawe word. Daar sal nie ’n begrafnisdiens vir hom gehou word nie.

Meer oor:  Rapport  |  Phil Zaayman  |  Sterfgeval  |  Stigterslid  |  Demensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.