Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Stilbaai-fotograaf (31) dood ná brander haar van rotse slaan

Huldeblyke stroom in vir Debbie Smith (31), ’n fotograaf van die Suid-Kaapse kusdorp Stilbaai, wat Saterdag dood is toe sy op ’n swemuitstappie deur ’n brander van die rotse geslaan is.

Debbie SmithFoto: Facebook

Die voorval het Saterdag omstreeks 16:00 by Jongensfontein naby Stilbaai gebeur.

Smith is glo deur ’n brander van die rotse geslaan, sê kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder.

“Sy is die see ingetrek en het onder die water verdwyn. “Haar liggaam is later met veelvuldige beserings uit die water gehaal waar sy deur ’n geneesheer dood verklaar is.”

Na verneem word, was Smith se man, Johannes Naudé, by toe die tragedie gebeur het.

Die egpaar besit onder meer ’n fotografie-onderneming in die dorp. Smith is bekend vir die talle matriekafskeid- en gesinsfoto’s wat sy geneem het.

Ds. Vian Louw van die NG kerk Stilbaai sê by navraag Smith het 12 jaar in Stilbaai gewoon. “Sy was ’n engel in die dorp en iemand wat God se liefde teenoor haar medemens uitgeleef het. Orals waar sy gegaan het, het sy ’n verskil probeer maak.”

Volgens Louw het die voorval skynbaar gebeur toe die paartjie met hoogwater gaan swem het. Haar man het glo alles probeer om haar te red, en sy voete en bene is in die proses gesny. Volgens Louw is die familie baie hartseer en is die gemeenskap diep geraak deur wat gebeur het.

Huldeblyke vir Smith stroom intussen op Facebook in.

“Engel-Dogter Engel-Vrou Stilbaai-Liefling Debbie,” skryf Nolene Bouwer op Facebook. “Haar leemte sal nooit ooit gevul kan word. Haar liefdevolle, passievolle foto’s en mooi woorde verewig op wêreldwye web. Stilbaai gaan leeg wees sonder Debbie van Dejavu.”

Linda Kruger skryf ook onder meer op Facebook: “. . . ons gaan haar laggie mis en haar grappies . . .”

Marthinus Strydom sr. skryf ook op Facebook: “Sy was ’n ligstraal in Stilbaai en almal was geweldig lief vir haar. Ons gaan haar glimlag mis. Ons gaan haar foto’s, wat sy met soveel passie geneem het, mis. Ons gaan haar warm hart mis.”

Volgens Pojie sal ’n lykskouing binnekort gehou word en word geen gemene spel vermoed nie. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Smith se begrafnisdiens sal volgens Louw komende Saterdag in die NG kerk Stilbaai gehou word. Die tyd sal nog bekend gemaak word.

Meer oor:  Stilbaai  |  See  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.