Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Stilbaai Inwoners’ briesend oor vuurwerke

’n Facebook-plasing waarin “Stilbaai Inwoners” hul misnoeë te kenne gee oor vuurwerke wat vanjaar by goedgekeurde plekke toegelaat word, maak opslae.

Die plasing het Woensdag op die Facebook-groep Stilbaai verskyn met onder meer ’n foto van brande wat op Nuwejaarsdag vanjaar in Stilbaai in die Hessequa-distrik in die Suid-Kaap onder bedwang gebring is en op die voorblad van Die Burger verskyn het.

Dit het op Oujaarsaand ontstaan, vermoedelik weens vuurwerke.

Die plasing lui: “Ten spyte van herhaaldelike versoeke van die inwoners van Stilbaai gaan vuurwerke weer toegelaat word op goedgekeurde plekke. Ten spyte van verwoestende brande in en om ons dorp het ons raadslede ons in die steek gelaat. Ons is moeg om geïgnoreer te word! Die inwoners van Stilbaai gaan nie meer hiervoor staan nie! Verban vuurwerke onmiddellik!”

Die plasing op Facebook. Foto: Facebook

Die goedgekeurde plekke waar vuurwerke op Oujaarsaand van 23:00 tot Nuwejaarsdag om 01:00 afgevuur mag word, is op Riversdal se rugbyveld en in die Riverville-stadion op die dorp, die Brak-gebied in Albertinia, Heidelberg se rugbyveld, Slangrivier se sportterrein en in Stilbaai vanaf die wit hekke by die hawe in ’n oostelike rigting (wat Lappiesbaai vanaf die restaurant tot by die riviermond insluit), asook in die speelpark in Ericarylaan in Melkhoutfontein, het die Stilbaai-munisipaliteit vandeesweek bekend gemaak. Niemand mag vuurwerke buite dié plekke afvuur nie.

Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa, sê by navraag hulle is bewus van die Facebook-plasing.

Volgens hom is ’n demokratiese proses met wykskomitees in die hele Hessequa-distrik oor die afvuur van vuurwerke gevolg.

“Die gebiede is die afgelope 10 jaar dieselfde.”

Hy sê die munisipaliteit sal Donderdag ’n verklaring oor die kwessie uitreik.

Meer oor:  Oujaarsaand  |  Stilbaai  |  Vuurwerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.