Verkeersvolumes sal na verwagting nou afneem aangesien baie vakansiegangers reeds die pad huis toe aangepak het.
Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sê daar sal beslis vanaf Maandag ’n afname in verkeersvolumes wees.
Volgens Zwane is die “verkeerspiek” reeds Sondag bereik.
Daar was Sondag druk verkeer op die N1-, N3-, N12- en N2-roetes en sowat 1 500 voertuie per uur in die rigting van Gauteng is getel.
Zwane sê motoriste toon sover “goeie gedrag op die paaie en reis vroeg”.
Thania Dhoogra, operasionele bestuurder van die N3-tolkonsessie (N3TC), sê hoewel die meeste vakansiegangers Sondag na Gauteng teruggekeer het, verwag N3TC nog ’n toename in verkeersvolumes later in Januarie aangesien die skole vanjaar later oopmaak.
Met Sondag se druk verkeer het die N3-tolroete gedurende die dag hoë verkeersvolumes van meer as 2 000 voertuie per uur in ’n noordelike rigting gehad.
N3TC het intussen ’n waarskuwing uitgereik vir reisigers om ingevolge die huidige aandklokreël genoeg reistyd te beplan vir moontlike verkeersontwrigtings of vertragings op die pad.
“Reisigers op die N3 het Saterdagaand ’n verkeersontwrigting ervaar as gevolg van ’n ernstige ongeluk wat veroorsaak het dat die N3 vir ’n aantal ure naby Warden in die Vrystaat vir verkeer gesluit was, sê Dhoogra.
Die erns van die ongeluk en swaar reën het die opruiming van die toneel moeilik gemaak,” lui ’n verklaring deur die N3TC.