Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Stilte? Dit kan lol in die lug

’n Vlug tussen Johannesburg en Kaapstad gaan dalk aansienlik langer en duurder word as daar ’n ompad gevind moet word weens die nuwe interkontinentale radioteleskoop in die Karoo.

Lugdienste raak angstig oor ’n gebrek aan oplossings vir die beloftes wat die Suid-Afrikaanse regering oor die Square Kilometre Array (SKA) gemaak het.

Dié teleskoop verg radiostilte rondom die teleskoop om optimaal te funksioneer. Die ghoeroes wat die aanvoorwerk vir die R30 miljard-projek doen, het reeds bepaal daar moet “lugvaartbeperkings” oor die gebied rondom die Karoo wees.

Maar die besigste vliegtuigroete in Afrika – vir die minstens 95 daaglikse vlugte tussen die Moederstad en Goudstad – sny byna regdeur die gebied wat vir “radiostilte” toegewys word.

Om die roete te verander, kan onbekostigbaar wees, sê lugvaartkenners.

Lugdienste raak angstig.

Chris Zeigerthal, uitvoerende hoof van die Lugdiensvereniging van Suid-Afrika, sê lugdienste is bekommerd omdat daar min haas is om ’n oplossing te vind vir die ooglopende belangebotsing waarop die teleskoop afstuur.

’n Tegniese taakspan waarin die Burgerlugvaartowerheid, lugdienste en die departemente van wetenskap en vervoer dien, moet ’n oplossing vind. Die bedryf wag egter al minstens ’n jaar lank vir die taakspan om te vergader, sê Zeigerthal.

Regulasies wat in 2017 in die Staatskoerant gepubliseer is, verbied die gebruik van sekere radiofrekwensies in verskillende radiusse rondom die kern­gebied. In die grootste gebied, bekend as die Karoo Central Astronomy Advantage Area 1, word die gebruik van frekwensies van 100-2170 MHz grootliks verbied. Dis die frekwensies wat onder meer vliegtuie gebruik.

Hoewel die regulasies sê daar moet ’n spesiale bedeling vir lugvaart wees, moet die “nodige maatreëls” deur die betrokke ministers ingestel word.

Zeigerthal se die SKA is ’n fantastiese projek van groot belang vir die land, maar die radiofrekwensies wat die lugvaartbedryf gebruik, word deur internasionale wetgewing bepaal en is vir lugvaart gereserveer. Suid-Afrika kan nie eensydig daaraan torring nie.

Hy sê daar was vroeër ’n voorstel dat vliegtuie hoër – op ’n hoogte van 18 500 m – oor die gebied sal moet vlieg, maar die maksimum hoogte vir die meeste kommersiële vliegtuie is net 11 900 m.

Veranderings aan die vlugroete sal die koste van lugvervoer verhoog, maar tans is dit nog nie eens duidelik hoe groot die gebied om die SKA-kern is waar radiostilte gehandhaaf moet word nie, sê hy. Dit is dus ook onduidelik hoe groot die draai sou wees wat vliegtuie om die terrein sal moet vlieg.

Adrian Tiplady van die SKA sê hulle werk aan ’n oplossing.

Dit is belangrik dat daar radiostilte moet wees sodat die antennas die radioseine uit die buitenste ruim kan opvang.

Soos enige helder lig ’n optiese teleskoop kan “verblind”, kan sterk radioseine die radio-teleskoop “doof” laat.

Volgens Tiplady het die tegniese taakspan wel nog nie vergader nie, maar daar is informele gesprekke tussen rolspelers.

Hy sê daar hoef nie noodwendig ’n vliegverbod oor die hele terrein ingestel te word nie, maar die impak van lugvaart moet beperk word.

Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur radiosenders nie teen volle sterkte te gebruik nie. Tiplady bevestig dat die sensitiewe gebied “ ’n paar honderd kilometers in deursnee” is.

Daar sal binne die volgende jaar ’n oplossing gevind moet word voordat die bouwerk begin, sê Tiplady.

Suid-Afrika is een van vyf lande wat vroeër die maand ’n internasionale verdrag onderteken het vir die totstandkoming van die radioteleskoop.

Dit sal oor die volgende 50 jaar gebou word en die grootste ter wêreld wees. Bouwerk op die terrein 90 km vanaf Carnarvon in die Noord-Kaap sal na verwagting in 2021 begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.