Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Stop seksisme sommer daar tussen die manne’
vrouedag
Mans wat vroue as hul gelykes behandel, verdien erkenning, maar hulle moenie verwag om op die hande gedra te word net omdat hulle die regte ding doen nie.

Sy was een van die sprekers by die #WeSeeEqual-beraad wat in samewerking met die maatskappy Procter & Gamble (P&G) en VN Vroue in Moembai aangebied is. Phumzile Mlambo-Ngcuka het deelgeneem aan ’n bespreking wat antwoorde gesoek het op die vraag wat dit verg om gelykheid te bewerkstellig.

Sy beklee ook die pos van adjunk-sekretaris-generaal van die VN in New York.

Die #WeSeeEqual-beraad het kenners uit verskeie vakgebiede en bedrywe byeengebring – insluitend regeringslui, sakemense en vermaaklikheid- en sportsterre – om te gesels oor onderwerpe soos hoe vooroordele oor gender in die kiem gesmoor kan word; die belang van gendergelykheid tuis en in die werkplek; hoe mans en vroue hul werkslas kan deel en saam verandering kan bewerkstellig.

Bonang Matheba, een van Suid-Afrika se gewildste vermaaklikheidspersoonlikhede, het ook aan ’n paneelbespreking deelgeneem saam met die Bollywood-ster Richa Chadda en die bekroonde Egiptiese aktrise Amina Khalil.

Mans wat vroue as hul gelykes behandel, verdien erkenning, maar hulle moenie verwag om op die hande gedra te word net omdat hulle die regte ding doen nie, het Mlambo-Ngcuka gesê. “Niemand loof ma’s wat hul kinders skool toe vat nie. Om vroue te help om kinders groot te maak en om met huiswerk te help is wat verantwoordelike mense in elk geval behoort te doen. Jy hoef nie ’n vis geluk te wens omdat hy swem nie!”

Om onomkeerbare geslagsgelykheid te weeg te bring, verg volgehoue en doelbewuste aksies, het Mlambo-Ngcuka benadruk.

“Ons moet saamwerk om gendergelykheid te bevorder oral waar daar steeds ongelykhede is – in skole en kantore; in die media; op die sportveld; in die landbou; fabrieke en in die parlement. Ons beywer ons vir praktiese veranderings, soos stewige kontrakte vir ondernemings wat deur vroue besit word, maar terselfdertyd probeer ons ook om die stereotipes oor vroue en meisies in die kiem te smoor sodat hulle as gelykes gesien en behandel word.”

Ons moet saamwerk om gendergelykheid te bevorder oral waar daar steeds ongelykhede is – in skole en kantore; in die media; op die sportveld; in die landbou; fabrieke en in die parlement.

Een van die kernboodskappe van die #WeSeeEqual-beraad was vir haar die belangrikheid vir maatskappye en organisasies om ’n beleid te hê wat hul vordering met betrekking tot gendergelykheid monitor, het Mlambo-Ngcuka gesê. “Dis noodsaaklik om bestuurders verantwoordbaar te hou vir baie tasbare en spesifieke resultate.”

Die #WeSeeEqual-beraad is die gevolg van ’n omvattende vennootskap tussen VN Vroue en P&G. ’n Aansienlike deel van dié samewerking behels die ekonomiese bemagtiging van vroue, het Mlambo-Ngcuka verduidelik. “Ons werk saam met P&G om bewusmaking te skep oor kwessies soos toegang tot skoon water en sanitasie en die implementering van doeltreffende projekte in lande waar vroue en meisies die swaarste kry.”

Maatskappye wat saam met die VN werk, moet daad by die woord voeg, het Mlambo-Ngcuka gesê. Sy het P&G geloof vir die manier waarop hy vroue in hul diens bemagtig en gendergelykheid nastreef. Dié maatskappy het die afgelope paar jaar doelgerig gestreef om ’n inklusiewe werksomgewing te skep met 50-50-verteenwoordiging van mans en vroue op alle vlakke van die maatskappy se massiewe internasionale netwerk.

Mlambo-Ngcuka het gesê een van die deurslaggewende maniere waarop die private sektor ’n verskil kan maak, is bewusmaking van genderongelykheid deur bemarkings- en advertensieveldtogte.

“Sulke veldtogte kan die narratief verander wat genderongelykheid onderlê – soos ons onlangs gesien het met die reaksie wat die Gilette-advertensie oor toksiese manlikheid uitgelok het en die treffende #LikeAGirl-veldtog vir Always- sanitêre doekies wat bevraagteken het wat dit beteken om iets ‘soos ’n meisie’ te doen.”

Always #LikeAGirl se advertensie het internasionaal groot aftrek gekry en is reeds meer as 85 miljoen keer op YouTube gekyk. Voordat hulle dié video gesien het, het net 19% jong mense tussen 16 en 24 jaar oud ’n positiewe assosiasie met die frase “soos ’n meisie” gehad.

Nadat hulle daarna gekyk het, het 76% van dié groep jonges gesê dié frase is nou nie meer vir hulle negatief nie. Boonop het twee uit elke drie mans wat die video gesien het, agterna gesê hulle sal nou twee keer dink voor hulle weer die uitdrukking “soos ’n meisie” as ’n belediging aanwend.

“Geen hoeveelheid preke deur vroue soos ek sal ooit dieselfde uitwerking hê as ’n goeie advertensie met trefkrag wat gemaak is deur maatskappye wat verstaan wat die waarde daarvan is om vroue positief en geloofwaardig uit te beeld nie.

“VN Vroue het onlangs ons vennootskappe uitgebrei en saam met P&G en ander maatskappye die Unstereotype Alliance op die been gebring,” het Mlambo-Ngcuka verduidelik. Dié inisiatief poog om skadelike stereotipes wat dikwels in advertensies voorkom, uit die weg te ruim.

Sy het ook heelwat te sê gehad oor die sogenaamde “glasplafon” wat vroue in hul loopbane kniehalter. “Wanneer vroue tot middelvlakbestuur vorder, kom hulle dikwels voor ’n stukkende leer te staan. Diegene wat reeds in topstrukture is, moet gewillig wees om deure vir vroue oop te maak.

“Met die VN se #HeForShe-veldtog werk ons met mans op voetsoolvlak maar ook met mans in leierskapsrolle wat in ’n posisie is om vir vroue toegang te gee. Ons bearbei ook politieke partye sodat hulle op beleid aandring wat voorsiening maak vir minimum verteenwoordiging van vroue in regeringstrukture.”

Dis betreurenswaardig dat daar wêreldwyd net tien lande is wat gendergelyke regerings het, het Mlambo-Ngcuka gesê.

Maar sy het op ’n hoopvolle noot afgesluit deur te noem dat sy glo in die “krag van een”. “Een mens kan ’n verskil maak in die lewe van miljoene mense. Soms verg dit net ’n handtekening op ’n dokument saam met die moed en vasberadenheid om iets goeds te doen. ’n Handjievol leiers kan die wêreld op sy kop keer – ten kwade óf ten goede,” het Mlambo-Ngcuka gesê.

Meer oor:  Vroueregte  |  Seksisme  |  Regte  |  Geslagsgelykheid  |  Gender  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.