Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Stoute ‘grap’: Leraar gepos

’n Dominee van Centurion is uit sy pos én die amp ontslaan nadat ’n tugverhoor bevind het hy het ’n gemeentelid seksueel geteister en ’n “rassistiese” grap oor Julius Malema aangestuur.

Dr. Eduan Naudé, predikant.

Maar dr. Eduan Naudé, voormalige leraar van die NG Lyttelton-moedergemeente, hou vol hy het níks verkeerd gedoen nie en sal sy ontslag tot in die howe beveg.

Hy beweer sy medeleraar in die gemeente, dr. Danie Langner, en ander rolspelers is deel van ’n sameswering om van hom ontslae te raak. Langner is ook hoofleier van die Voortrekkers en besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Langer ontken ’n sameswering en sê hy wil ook nie nou op die aantygings reageer nie omdat die saak nog nie afgehandel is nie.

Tugondersoek was ‘loutere lyding’.

Rapport het in September ver­lede jaar berig oor die “stoute Whats­Apps” wat tot die drama aanleiding gegee het.

Die klaer, wie se identiteit weerhou word omdat sy volgens die kerk ’n slagoffer van seksuele teistering is, het destyds aan Rapport gesê die boodskappe was “sagte pornografie” wat geen man aan ’n getroude vrou behoort te stuur nie – wat nog te sê ’n dominee. Sy het nie die afgelope week Rapport se oproepe beantwoord nie.

Die ring van Lyttelton lig vandag Naudé se gemeentelede in van sy afdanking. In die brief, wat Rapport onder oë gehad het, sê die kerkleiers die tugondersoek en uitslag was ’n “loutere lyding”.

“Ons rig hierdie skrywe aan u (gemeentelede) met geweldige hartseer, maar ook diep meegevoel en besorgdheid,” lui die brief. “Ander partye en persone het ongelukkig van hierdie geleentheid gebruik gemaak om wanpersepsie, misverstand en skeuring in die Kerk van die Here Jesus Christus te bevorder. Ons betreur hierdie aksies en keur dit ten sterkste af.”

Dr. Danie Langner, medeleraar.

Luidens die brief het die ringdiensteraad al op 18 Oktober verlede jaar bevind dat hy “herhaaldelike en ongevraagde boodskappe met seksuele ondertone” en “rassistiese” boodskappe aan die klaer gestuur het.

“Hierdie sake is brandpunte in ons gemeenskap. Hoeveel te meer wanneer die kerk ter sprake kom,” lui die brief.

Die kerkleiers het volgens die brief eers probeer om ander gepaste sanksies eerder as ontslag toe te pas, maar Naudé het nie die nodige berou gehad nie.

Naudé het reeds vroeër die saak by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aangemeld. Hy het ook verlede week ’n dringende hofaansoek in die arbeidshof ingedien om die kerk te verhoed om hom af te dank, maar dié saak is onbepaald uitgestel. Volgens die ring het Naudé in ’n stadium gedreig “dat hy skade aan die kerk gaan doen” en “het geweier om sekere voorwaardes van die tugmaatreëls na te kom”.

Naudé het gister in ’n verklaring aan Rapport gesê hy het niks verkeerd gedoen nie.

“My sin vir humor is iets wat my staande hou en help om die ondraaglike swaar dinge waarin ek in my roeping as predikant mee te doen kry, te verwerk. Soos baie ander het ek ’n klein groepie familie, vriende en lidmate aan wie ek snaakse stories aanstuur. In hierdie groepie is ook my vrou, seun, twee dogters en hul mans, ons goeie vriende en vriendinne, medepredikante en ook lidmate. ’n Vrou het hierdie WhatsApps misbruik om my valslik by die kerklike strukture te gaan aankla.

“Oor WhatsApps wat ek aan mense naby my gestuur het (en wat ook hartlik terug gereageer het), het die kerk my nou ontslaan as predikant. Vreeslik is dit om te val in die hande van liefdelose mense. Ek is ook aan rassisme skuldig bevind omdat ek ’n Nando’s-video aangestuur het van Julius Malema,” sê hy.

Oor die beweerde sameswering het Naudé aan Rapport gesê die klaer het ná maande wat sy meegedoen het aan die WhatsApp­gesprekke, hom verkla direk nadat hy alarm gemaak het oor beweerde ongerymdhede waarby die Afrikaanse Toekomstrust (ATT) glo betrokke is.

Die ATT beskryf homself as “’n organisasie wat ons Afrikaanse gemeenskappe, taal en kultuur met hart wil bevorder”. Naudé was ook op die bestuur van die ATT.

Die Lyttelton-gemeente is nou betrokke by die ATT. Langner is die voorsitter en die klaer is ook betrokke by die ATT.

Volgens Naudé is hy ’n “fluitjieblaser” oor dinge wat hom gepla het. In sy bedankingsbrief, wat Rapport gesien het, skryf hy: “Ek is nie gemaklik met die rol waarin die ATT midde-in die bestuur van die (NG Lyttelton)-gemeente geplaas word nie.”

Hy wou nie uitbrei oor wat die beweerde ongerymdhede was nie.

Langner ontken ten sterkste dat daar enige ongerymdhede by die ATT is.

In die brief wat gemeentelede vandag gaan kry, sê die ring hulle “beskou hierdie aangeleentheid as ’n tragedie waarin daar dosyne slagoffers is en geen wenners nie”.

“Die Kerk van die Here Jesus word hierdeur verwond, en ons kan nie anders as om saam met u (gemeentelede) in diep verootmoediging voor die Here daaroor te wees nie.”

*

Meer oor:  Danie Langner  |  Predikant  |  Seksuele Teistering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.