Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Straatbrakkie – en haar babas – kry nuwe liefde
Nonnie en Deon Kruger.Foto: Verskaf

* In die vorige weergawe van hierdie berig is Lizette Rabe se naam verkeerdelik in die naamlyn aangebring.

Nadat ’n paartjie van Groenpunt in Kaapstad 20 jaar gelede ’n hond en haar kleintjies langs die N2 gered het, het hulle nou weer ’n ander straatbrakkie ’n nuwe lewe gegee.

Die hond wat Deon Kruger en Francois Rabe so lank gelede langs die N2 opgetel het, en vir hulle jare se vreugde gegee het, het hulle Nonna gedoop. Toe hul weer onlangs ’n ander hond op dieselfde manier red, doop hulle haar Nonnie.

Kruger vertel entoesiasties hoe Nonnie oor sy pad gekom het, en hoe hy baie meer as net een hond se lewe kon red . . .

Toe Kruger, ’n versekeringassessor van Groenpunt, twee weke gelede in Koebergweg, Kaapstad, ry, vang ’n beweging op die sypaadjie sy oog – ’n brandmaer straatbrakkie op soek na iets om haar maag vol te maak. Dadelik spring hy uit sy voertuig en hardloop agterna.

“Sy was so bang, sy het verskrik weggehardloop,” vertel Kruger. “Ek besef toe sy is natuurlik honger. Ek het ’n pastei gaan koop by die kafee naby waar ek my motor gelos het, en dit vir haar gegooi.”

Kruger sê hy kon sien dit is ’n tefie omdat haar tepels geswel was.

“Sy het die pastei opgeraap en verslind. Toe hardloop sy weer weg. Ek moes haar weer agternasit,” sê Kruger.

Nonnie die dag toe Kruger haar opgetel het.Foto: Verskaf

Ondanks haar verswakte toestand het sy haar nie maklik laat vang nie. Die hond (wat later Nonnie geword het) het Kruger op sy hand gebyt toe hy haar uiteindelik vang, só dat dit bloei.

“Dit was gelukkig nie te ernstig nie. Sy het my gebyt, maar gelukkig was sy oukei.”

Kruger het Nonnie huis toe geneem, waar sy onmiddellik byna twee liter water opgesuip het. By die huis is die nuwe tefie nie te entoesiasties verwelkom nie.

Kruger en Rabe, ’n oudredakteur en mediapraktisyn, besit ook twee katte – albei van die strate gered. Matewis is oorspronklik van Somerset-Wes, en Meraai van Woodstock.

Kort daarna het Kruger en Rabe vir Nonnie na ’n veearts geneem, waar x-strale geneem is. Dr. Gemma Scheiber van Kloof Vet, gee toe vir hulle die goeie nuus – sy het geen siektes nie, is net uitgehonger en uiters verwaarloos.

Kruger se aanvanklike vermoedens is bevestig – die tefie is swanger. En volgens die x-strale: vyf hondjies. Volgens Scheiber se berekeninge was die hond slegs 55 dae swanger, maar haar nuwe eienaars het dae ná sy gered is besef dit was werklik weke langer.

Nonnie met haar kleintjies.Foto: Verskaf

“Omdat sy so maer en uitgeteer was, kon mens nie mooi skat hoe lank sy verwag nie. Dit was toe eintlik nader aan 62 dae, wat omtrent die gemiddelde tyd is wat honde dra,” sê Kruger.

Nonnie se vyf kleintjies word toe verlede week rondom middernag gebore. Volgens Kruger lyk dit of hul pa dalk selfs ’n Labrador kon wees omdat die babas lywig is.

Nóú spring Nonnie op en af van blydskap om haar nuwe eienaars te sien, en sy oorweldig hulle met stertswaai en liefde.

Kruger sê hoewel hy vreeslik lief geword het vir Nonnie, sal sy moontlik nie vir veel langer by hom kan tuisgaan nie.

“My suster van Johannesburg het my laat weet sy wil moontlik vir Nonnie en een van haar kleintjies aanneem,” vertel Kruger.

“Ons weet nog nie hoe ons met die ander kleintjies gaan maak nie, maar ek gaan hulle beslis nie weggee voordat hulle 12 weke oud is nie. Ek dink voor dan is hulle nog te jonk.”

Kruger en Rabe se katte, Matewis en Meraai.Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.