Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Straatslapers trek in by historiese hotel in Baai

Die historiese King Edward-hotel in Port Elizabeth wat skaars drie jaar gelede teen ’n koste van miljoene rand gerestoureer is, het die tuiste van straatslapers geword en diewe en vandale stroop hom daagliks van sy inhoud.

Die King Edward-hotel het in Desember verlede jaar sy deure gesluit. Foto: Lulama Zenzile

Dié hotel is meer as 100 jaar oud en is in Desember verlede jaar gesluit nadat sjeik Khalaf Ahmed Khalaf Al Otaiba van die Verenigde Arabiese Emirate dit in 2012 gekoop het. Die hotel was vier jaar lank gesluit terwyl die restourasiewerk aan die gang was.

Die eens glansryke hotel is nou ’n seer oog met boemelaars wat hulle daar tuisgemaak het. Antiekware, skilderye, duur meubels, krane, geisers, beddegoed, telefone en televisie-stelle word ook daagliks uit die hotel gesteel.

Inwoners in die omgewing beweer prostitute lewer hul dienste uit van die 104 leë kamers.

Die plundery van die hotel het begin handuit ruk nadat die veiligheidswagte by die hotel uit vrees vir hul veiligheid aan die perseel onttrek het.

David Annendale, ’n bekommerde inwoner, het beamptes van die Humewood-polisiekantoor Donderdag vir die soveelste keer na die toneel ontbied.

Toe Netwerk24 Donderdag daar opdaag, was die voorportaal, die ontvangsgebied, eetlokaal en die kamers in ’n haglike toestand.

Die polisie is Donderdag vir die soveelste keer na die King Edward-hotel ontbied. Foto: Lulama Zenzile

Enigeen kan die voordeur oopmaak en houtgerus instap, want die slot en die ketting wat daaraan was, is afgebreek.

Mense wat in die hotel slaap, het ook vensters en deure oopgebreek om toegang tot die hotel te kry.

Vullis lê oral gestrooi en al die kamers is geplunder.

Annendale sê dit is hartseer om te sien hoe mense die hotel besteel, terwyl niks daaraan gedoen word nie.

“Ek is raadop. Die brandweer het verlede Vrydag ’n brand kom blus hier in die hotel. Ek weet nie wat van hierdie plek gaan word nie.

“Die hele gebied is onveilig deurdat die hotel nou ’n hool geword het vir misdadigers.

“Ek het Dinsdagaand gesit en kyk hoe mense al die geisers wegdra. Die water het oral gestroom.”

Kwaaddoeners het die slot en die ketting wat aan die voordeur was oopgebreek. Enigeen kan toegang tot die hotel verkry. Foto: Lulama Zenzile

’n Inwoner wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy vrees vir haar veiligheid elke keer as sy van die werk af kom en verby die hotel huis toe moet stap.

“Ek kan nie glo mense word toegelaat om te steel nes hulle lus kry nie. Die gebied is nou baie onveilig sedert die wagte nie meer hier is nie.”

Kuban Chetty, die sjeik se prokureur in Suid-Afrika, sê hulle weet die hotel loop erg deur onder vandale. Die eienaar is besig om ’n nuwe veiligheidsmaatskappy aan te stel. Wagte sal dus binnekort weer op hul pos wees om die diefstal hok te slaan.

Chetty sê die hotel is in Desember gesluit weens onder meer probleme soos werknemers wat goedere gesteel het.

Die sjeik se seun het intussen sy sakebelange in Suid-Afrika oorgeneem.

Onderhandelinge met ’n bestuursagentskap, wat met voorstelle vorendag gekom het oor hoe om nuwe lewe in die hotel te plaas, is in ’n gevorderde fase, luidens Chetty.

Die polisie patrolleer die omgewing. As mense steel of gesteelde goedere besit, sal hulle in hegtenis geneem word.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die hotel is private eiendom en dit is dus die eienaar se verantwoordelikheid om veiligheidsmense aan te stel.

“Die polisie patrolleer die omgewing. As mense steel of gesteelde goedere besit, sal hulle in hegtenis geneem word.”

Janse van Rensburg sê die polisie ondersoek twee sake van huisbraak.

Drie verdagtes, Roger Buys (40), Wilmalize Pretorius (44) en Janesoka Daniels (16) is in verband met ’n voorval in Mei in hegtenis geneem en het in die hof verskyn.

“Die stasiebevelvoerder van die Humewood-polisiekantoor en amptenare van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit monitor die situasie, want dit kan ’n toevlug word vir haweloses.”

Meer oor:  King Edward-Hotel  |  Port Elizabeth  |  Vandalisme  |  Hotel  |  Straatslapers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.