Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Straf vir kaptein wat oor drank kla

Die vlieënier wat vroeër in Londen van ’n SAL-vlug verwyder is omdat hy na alkohol geruik het, het skotvry uit sy dissiplinêre verhoor ge­stap.

Kapt. Fanie Coetzee is skuldig bevind.

Sy kollega wat hom verkla het, was egter nie so gelukkig nie. Hy is skuldig bevind daaraan dat hy nie die lugdiens se interne prosedure gevolg het toe hy by die Heathrow-lughawe se bedryfsbeheerkamer gekla het nie. Hy moes eers die SAL se vlootkaptein in Suid-Afrika van sy vermoedens ingelig het, is bevind.

Mawethu (Mo) Majola (39) was die eerste offisier aan boord van ’n vlug wat op 2 April vanaf die Heathrow-lughawe sou vertrek, toe die vlug se kaptein, Fanie Coetzee (62), vermoed het dat hy nie nugter was nie.

Maar in sy tugverhoor sowat ’n maand gelede het Majola aangevoer ’n alkohollappie (wipe) wat gebruik is om die mikrofoon en vlugdek mee af te vee, was die oorsaak dat sy alkoholblaastoets ’n positiewe resultaat opgelewer het. Dit is so aanvaar.

Nadat Coetzee alarm gemaak het, het hy, Majola en die derde vlieënier in die kajuit almal ’n blaastoets gedoen. Majola se lesing was 0,06 mg/ml, drie keer bo die bloed-alkohol-perk van 0,02 mg/ml.

Hy is in hegtenis geneem, maar toe sy bloed ure later getoets is, was die uitslag onder die toelaatbare limiet.

Mawethu “Mo” Majola is onskuldig bevind.

Die SAL het kort ná die voorval ’n raad van ondersoek na die voorval ingestel en dié het bevind Coetzee het korrek opgetree deur dadelik alarm te maak. Coetzee het aangevoer hy het in die belang van vliegveiligheid die saak aangemeld.

Hy is nogtans ook aangekla omdat hy die goeie naam van die SAL sou beswadder het. Hy is ook aanspreeklik gehou vir die R1,75 miljoen wat dit die SAL gekos het om die vlug te kanselleer en die passasiers op ander vlugte en in hotelle plek te bied.

Hy is uiteindelik net op die mindere klag oor die interne prosedure skuldig bevind. Hy het teen sy skuldigbevinding geappelleer.

Luidens ’n bulletin van die SAL se vlieëniersvereniging (Saapa), het Coetzee binne tien minute ná die voorval die vlootkaptein gekontak, maar die SAL se voorgeskrewe prosedure bepaal dat dié kaptein eerste gebel moet word.

“Waar enige situasie die veiligheid van ’n vlug sou raak, behoort ’n vlieënier egter eerste die mees kritieke scenario te oorweeg voordat hy besluit oor die vinnigste ingryping,” lui die bulletin.

Die SAL het nie op navrae oor die bevindings gereageer nie. Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, het vroeër gesê die aanklagte teen Coetzee en Majola is ’n interne aangeleentheid en word daarom as vertroulik beskou.

“Die voorval het die platform geskep vir die SAL om sy interne bedryfsprosesse te hersien,” het hy gesê.

Sowel Majola as Coetzee wou geen kommentaar lewer nie en het Rapport se navrae na die SAL verwys. Saapa wou ook geen verdere kommentaar lewer nie.

Coetzee, wat ook ’n regsgraad het, was voorheen ’n vluginspekteur by die Burgerlugvaartowerheid en voorsitter van die Internasionale Federasie van Vlieëniersverenigings (Ifalpa) se regskomitee.

Hy tree eersdaags ná meer as 30 jaar diens by die SAL af. Hy het tot nou ’n skoon prestasielys gehad, maar het nou ’n skriftelike waarskuwing daarop.

Meer oor:  Mawethu “Mo” Majola  |  Fanie Coetzee  |  Sal  |  Vlieënier  |  Alkohol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.