Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Strafbare manslag bekyk ná busongeluk by Plet
Die Eagle Liner-bus het Vrydag op ’n alternatiewe roete op Robbergweg naby Plettenbergbaai omgeslaan. Die busbestuurder en twee passasiers is op die toneel dood en minstens 43 ander passasiers is beseer.Foto: Verskaf

Drie pasiënte sterk Sondag steeds in Knysna se provinsiale hospitaal aan nadat hulle Vrydag in ’n busongeluk op Robbergweg, Harkerville, naby Plettenbergbaai beseer is.

Die Eagle Liner-bus was Vrydag uit Kaapstad na Oos-Londen onderweg met 71 passasiers aan boord toe dit omstreeks 03:00 op dié pad omgeslaan het.

Die busbestuurder en twee ander passasiers is op die toneel dood en minstens 43 ander passasiers is beseer. Die identiteit van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie.

Die Bitou-munisipaliteit het Vrydag in ’n verklaring gesê die busbestuurder het moontlik weens die nat toestande op ’n skerp draai beheer oor die voertuig verloor.

Die bus is weens gewelddadige betogings in die gebiede via Robbergweg herlei. Die N2 by Rastas, oorkant Weldon Kaya, is sedert Dinsdagaand vir verkeer gesluit nadat voorvalle van klipgooiery voorgekom het.

Ontstoke inwoners het motorbande gebrand en voertuie met klippe bestook.

Voorheen is berig die pasiënte se beserings wissel van gering tot ernstig, met drie pasiënte wat in die George-hospitaal vir spesialisbehandeling opgeneem is, sê

Nadia Ferreira, provinsiale woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Eden-distrik.

Ferreira het Sondag gesê die vyf pasiënte wat Vrydagmiddag nog in die hospitaal in Knysna was, is Saterdag ontslaan.

Die N2 by Plettenbergbaai is Saterdag weer vir verkeer oopgemaak. Minstens 81 betogers is op verskeie klagte in hegtenis geneem.Foto: Verskaf

Drie pasiënte is nog in ’n stabiele toestand in die hospitaal, sê sy.

Ferreira kon nie meer inligting oor hul beserings bekend maak nie, maar sê dit gaan goed met hulle onder omstandighede.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, sê die Kwanokuthula-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Intussen is die N2 by Plettenbergbaai Saterdag weer oopgestel vir verkeer.

Die Bitou-munisipaliteit het in ’n verklaring gesê die gesamentlike operasionele span wat die betogings gemonitor het, het Saterdagoggend vroeg byeengekom en besluit om dié pad weer vir verkeer oop te stel.

Altesame 81 betogers is teen Vrydag in hegtenis geneem.

Sers. Chris Spies het vroeër aan Netwerk24 bevestig daar is verskeie aanklagte teen die verdagtes, wat aangekeer is gedurende die polisie se ingryping om die protesoptrede in die dorp te ontlont.

Betogers is ontevrede oor behuising, die hoë werkloosheidsyfer en ’n gebrek aan geriewe vir die jeug.

Luidens ’n verklaring van die Bitou-munisipaliteit het politici en raadslede Vrydagmiddag met die leierskap van die Qolweni-gemeenskap vergader.

Msimbothi Lobese, burgemeester, Sandiso Gcabayi, adjunkburgemeester, Euan Wildeman, speaker van die raad, en Mphakamisi Mbali, ’n burgemeesterskomiteelid, was van die amptenare wat die gemeenskap besoek het om oplossings te probeer vind. ’n Ooreenkoms is met die betogers bereik waarvolgens hulle sal ophou met hul protesoptrede indien daar aandag aan hul griewe gegee word.

Die ooreenkoms sluit die volgende in:

* ’n Skakelkomitee vir die gemeenskap sal gestig word om kwessies van dienslewering met die munisipaliteit te bespreek;

* Besprekings oor dienslewering sal gefasiliteer word deur die Menseregtekommissie (MRK), wat ook ’n plan van aksie sal opstel;

* Die MRK sal dophou of die aksieplan geïmplementeer word; en

* Die Qolweni-gemeenskap en ander rolspelers sal gereeld ingelig word oor die vordering wat met die aksieplan gemaak word.

Luidens die verklaring sal Sanral en die Bitou-munisipaliteit die versperrings en rommel op die pad verwyder.

Die polisie hou steeds brandpunte in dié gebied dop.

Intussen het die munisipaliteit ook sy medelye uitgespreek met families wat geliefdes verloor het in die busongeluk.

Meer oor:  Betogings  |  Protes  |  Busongeluk  |  Plettenbergbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.