Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Strandverbod: 'Ondernemings gaan eenvoudig vou'
Mosselbaai

Witsand, Stilbaai, Gouritsmond, Mosselbaai . . .

Die nuus is sleg vir ondernemings en inwoners van Suid-Kaapse kusdorpe met vakansiegangers wat hul verblyfbesprekings in hordes kanselleer.

Op die hoofroetes van Gauteng na die Wes-Kaap en Oos-Kaap is dit dieselfde storie. Bitter min vakansiegangers, met ’n woonwa aangehaak of fietse wat aan motors vasgemaak is, word gesien in Oudtshoorn se strate.

Grant Riddles, burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit wat vakansiedorpe soos Witsand, Stilbaai en Gouritzmond insluit, sê daar is eenvoudig ondernemings wat gaan vou ná die vakansie.

As die kusdorpe 40% van hul gewone toevloei van vakansiegangers sien, sal dit volgens Riddles meer wees as wat hy verwag.

“Deur die jaar was die winkels gesluit met die streng Covid-19-inperkings. Ondernemings het gehoop om nou in Desember op te maak vir hul verliese. Maar wie wil nou kom vakansie hou as jy nie strand toe kan gaan nie,” sê Riddles.

In Stilbaai is daar deur die jaar sowat 6 000 tot 7 000 permanente inwoners. Oor Desember styg dié syfer tot 60 000 mense. In Witsand is dit dieselfde. Deur die jaar is daar sowat 500 inwoners en oor Desember tussen 5 000 en 10 000 mense.

Stilbaai se hawe.

Vir huiseienaars in Stilbaai is die inkomste uit verhuring oor Desember tussen R3 000 en R6 000 per dag per huis. Dié geld is hul groot inkomste wat hulle deur die res van die jaar gebruik om van te kan leef, sê Riddles. Bykomende werkgeleenthede vir skoonmakers word vir honderde plaaslike inwoners geskep in die Desember-vakansie. Ook dié inkomstebron het nou opgedroog.

Louis Cook, woordvoerder van die Mosselbaaise gastehuis-gilde, sê gastehuise in Mosselbaai en omliggende vakansiedorpe soos by Klein-Brakrivier is gewoonlik teen Maart al vol bespreek vir Desember.

“Ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging stroom kansellasies in. ’n Hotel in Mosselbaai se besprekings het tot net 17% gedaal. Een plek met vyf chalets het twee chalets wat die hele Desember oopstaan. Vanoggend het ’n gastehuiseienaar gesê hy het ’n kansellasie gehad waarmee ’n inkomste van R21 500 verloor word,” sê Cook.

Hy sê die verbod op besoeke aan strande beteken dat kosstalletjies ook geen sake doen nie. Met skole wat eers op 27 Januarie begin, is daar ’n langer vakansieseisoen en behoort daar baie meer mense vir Januarie besprekings te doen, maar daar is bitter min besprekings vir dié tydperk.

Mosselbaai

Helga Ferreira, bestuurder van die Engen Klein Karoo in Oudtshoorn, sê gewoonlik is daar merkbaar swaarder verkeer vanaf 15 Desember wanneer ondernemings sluit en mense van Gauteng deur die dorp ry op pad na die Wes- en Suid-Kaap, maar vanjaar is dit merkbaar stiller.

“Jy kan sien aan die aantal voertuie wat gewoonlik woonwaens sleep of dié met fietse daarop dat dit glad nie soos ander jare is nie,” sê Ferreira.

Intussen het die DA ’n versoekskrif begin om die regering te oortuig om strande in die Tuinroete oop te stel. Hulle meen die besluit om strande te sluit, is onnodig.

“Sowat 35% van die streek se jaarlikse inkomste word dié tyd van die jaar gegenereer en dit is nou verlore vir die ekonomie. Dit bedreig talle werkgeleenthede. Seisoenale werkers verloor die inkomste wat hulle deur 2021 sou kon help dra."

Volgens die versoekskrif kan stappe gedoen word om veiligheids- en -gesondheidsriglyne na te kom sodat mense wat strand toe gaan, dit veilig kan doen.

Teen 13:00 Woensdag het meer as 3 800 mense die aanlyn versoekskrif onderteken.

Meer oor:  Hessequa-Munisipaliteit  |  Mosselbaai  |  Witsand  |  Stilbaai  |  Strandverbod  |  Ekonomie  |  Tweede Vlaag  |  Kansellasies  |  Strande  |  Suid-Kaap  |  Covid-19  |  Tuinroete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.