Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Strate in Pretoria gesluit vir optog teen geslagsgeweld

Strate van Kerkplein in Pretoria tot by die Uniegebou sal Vrydag gesluit word wanneer staatsamptenare ’n optog teen geslagsgeweld hou.

Intussen gaan die polisie saam met kerkgroepe ook ’n biddiens by die polisiekollege in Pretoria hou om die einde van die maand vir polisieveiligheid te gedenk.

Motoriste word gewaarsku om ontwrigting te verwag indien hulle Vrydag in die middestad beweeg.

Die optog, wat om 08:30 begin, sal deur Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, gelei word.

Luidens ’n verklaring van die departement reageer hulle op pres. Cyril Ramaphosa se oproep dat alle burgers moet saamwerk om die geweld teen en moord op vroue en kinders stop te sit.

’n Betoger hou ’n plakkaat vas met die gesig van Uyinene Mrwetyana (19), die eerstejaar UK-student wat vermoor is tydens 'n vorige betoging teen geslagsgeweld in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
Netwerk24 Foto: Jaco Marais

Mchunu sê die optog is om ’n bydrae te lewer tot die stryd. Hy sê dit skep ’n platform vir amptenare om hulself opnuut te verbind om geweld teen vroue en kinders teen te werk.

Ander ministers, adjunkministers, direkteursgeneraal, adv. Shamila Batohi, direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag, en senior amptenare sal ook deelneem.

“Soos die president versoek het, is dit ’n ongewone en onmiddellike reaksie teen dié soort geweld. Ons steun die president se ingryping en die inwerkingstelling daarvan. Ons ondersteuning spreek van dienslewering en die Batho Pele-beginsel,” sê Mchunu.

Die regering het R1,2 miljard opsygesit om ’n omvattende ingrypings- en noodplan te finansier en die voorstelle van die residensiële beraad van 2018 in werking te stel. Amptenare steun ook ’n beleid van optrede teen diegene wat hulle aan seksuele teistering in die werkplek, viktimisering en onveilige werksomstandighede skuldig maak. Die staatsdiens het reeds uitgebreide wette, beleide, programme en ingrypingsmetodes in plek wat toegepas moet word om kwesbare mense te beskerm.

Die minister sê daar is ’n vasberadenheid om bestaande wette streng toe te pas omdat slagoffers dikwels sekondêre viktimisering beleef wanneer hulle voorvalle aanmeld of hulp verlang.

’n Fakkel ter ere van vroue en kinders wat weens geslagsgeweld dood is, sal op ’n seremonie aangesteek word.

Die optog beweeg van Kerkplein via Paul Krugerstraat na die Uniegebou.

* Genl. Khehla Sitole, polisiekommissaris, gaan Vrydagoggend ook saam met kerkgroepe die einde van die maand vir polisieveiligheid gedenk. Polisiekommissarisse in die ander provinsies sal dieselfde saam met hul lede doen.

Die oogmerk van die seremonie is om vir die veiligheid van polisielede te bid of hulle aan diens is of nie en om misdaadvoorvalle in die algemeen te verminder. Daar sal ’n spesifieke fokus daarop wees om gesinsgeweld te verminder. Die polisie versoek gemeenskappe om met hulle saam te werk.

Altesaam 27 polisielede is in die 2017-’18-boekjaar dood terwyl hulle diens gedoen het.  

Meer oor:  Pretoria  |  Optog  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.