Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Student uit hospitaal ontslaan ná mesaanval op trein

Die 21-jarige student wat Maandag twee keer met ’n mes op ’n trein in Kaapstad gesteek is, is Woensdag uit die Netcare Kuilsrivier-hospitaal ontslaan.

Melody Struwig, die 21-jarige Tiffany se ma, sê haar dogter is terug by die huis nadat sy drie steke in haar bors en vyf steke aan haar pols gekry het.

“Die dokter sê aangesien die mes regdeur haar pols gesteek is, is sy gelukkig dat geen senuwees in haar arm raakgesny is nie,” sê Struwig.

Tiffany Struwig voor die aanval.

Tiffany het drie steke aan die bokant van haar pols gekry en twee aan die ander kant waar die mes se punt uitgekom het.

Struwig sê die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (die KSUT) waar sy ’n student is, het haar afgegee van klas, maar sy kon nie uitstel kry vir die take wat sy moet doen nie. Vir haar kursus in grafiese ontwerp hoef sy nie eksamens af te lê nie, maar sy moet take inhandig.

“Tiffany mag nie haar arm te veel beweeg nie omdat die dokters bang is daar sal blywende skade wees. Sy lê nou maar stil in haar bed by die huis,” sê Struwig.

Ná die aanval het Riana Scott, woordvoerder van Metrorail, gesê Metrorail ondersoek gewoonlik voorvalle soos dié aanval en probeer maniere vind om dit in die toekoms te voorkom.

Scott sê egter ook dit is nie nét Metrorail se verantwoordelikheid om passasiers se veiligheid te verseker nie.

“Ons erken dat misdaad ’n probleem in die Wes-Kaap is. Ongelukkig kan die stryd teen misdaad nie in isolasie gewen word nie en ons doen ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe om ons te help,” sê Scott.

Sy sê dit is noodsaaklik dat Tiffany se familie haar help om die aanval by die polisie aan te meld, “aangesien gerapporteerde voorvalle ondersoek word om gereelde misdaadgebiede te identifiseer”.

Sy sê die aanval op Tiffany moenie in isolasie gesien word nie en dat die misdaadprobleem nie net op openbare vervoer is nie.

Volgens Struwig gaan Bertus, Tiffany se pa wat self ’n polisiebeampte is, persoonlik die saak aanmeld, hoewel hy dit nog nie gedoen het nie. Bertus wil eers met sy dogter praat om te bepaal onder watter kategorieë die aanval klassifiseer, maar hy sê poging tot moord sal definitief hierby ingesluit word.

Volgens Scott is ’n bedrag van tot R25 000 betaalbaar aan iemand wat inligting gee wat tot ’n skuldigbevinding kan lei.

Enigiemand wat misdaad op treine sien of ervaar, kan dit by Metrorail se beskermingshulplyn by 021 449 4336/5056, aanmeld of ’n SMS na 32211 stuur.

Meer oor:  Mesaanval  |  Ontslaan  |  Student  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.