Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Suid-Afrikaner red man in Taiwan uit dam
Johan Koekemoer (47), oftewel Cokes, word in Taiwan as ’n held beskou nadat hy ’n man in dié land se lewe gered het. Hy is oorspronklik van Oudtshoorn. Hier is hy saam met sy vrou, Jani, en kinders, Mikayla (1) en Kaleb (4).Foto: Verskaf

’n Suid-Afrikaner wat in Taiwan woon, word in die land as ’n held beskou nadat hy die lewe gered het van ’n man wat met sy motor in ’n dam beland het.

“Ek voel nie soos ’n held nie. My instinkte het net ingeskop. Ek sal dit beslis weer doen,” het Johan Koekemoer (47), oftewel Cokes, gesê.

Hy is oorspronklik van Oudtshoorn en is al 12 jaar in Taiwan. Hy en sy vrou, Jani (34), albei kleuterskoolonderwysers, woon saam met hul kinders, Kaleb (4) en Mikayla (1), in Tamsoei, ’n klein kusdorpie net noord van die hoofstad, Taipei.

Die Koekemoer-gesin het Donderdag omstreeks 09:00 verby ’n dam naby hul huis gery toe hulle ’n motor in die water sien. Dit was nog nie heeltemal onder die water nie.

“Ek het eers gedink dit is baie snaaks en vermoed dit is iemand wat die vorige nag reeds die dam ingery het nadat hy dalk te veel gekuier het,” het Koekemoer gesê.

Maar toe sien hy iemand in die motor wat sy arms beweeg. Koekemoer was nie seker of die persoon uit die motor probeer klim en of hy om hulp beduie nie.

Johan Koekemoer (47), oftewel Cokes, word in Taiwan as ’n held beskou nadat hy ’n man in dié land se lewe gered het. Hy is oorspronklik van Oudtshoorn in die Oos-Kaap. Hier is hy saam met sy vrou, Jani (34), en kinders, Mikayla (1) en Kaleb (4).Foto: Verskaf

Hy het egter besluit om af te draai en langs die dam stil te hou. Intussen kon die man daarin slaag om deur die sondak uit die motor te kom en op die dak te klim.

Koekemoer, sy vrou en kinders was eerste op die toneel.

Hy het dadelik sy hemp en sokkies uitgetrek en die man in Engels gevra of hy kan swem en of hy hulp nodig het. Die man het hom nie eintlik verstaan nie en Jani het hom dieselfde vrae in Chinees gevra.

Die man het “nee”-bewegings met sy hande gemaak, maar dit was nie duidelik wat hy daarmee bedoel nie.

Die volgende oomblik het hy teen die kant van die motor afgegly, vermoedelik omdat hy gedink het die water is vlak genoeg om in te staan. Die dam is egter sowat 3 m diep.

“Onmiddellik toe hy die water tref, het ek besef hierdie ou kan nie swem nie. Hy het ’n bietjie gespartel om teen die kant van die motor vashouplek te kry,” het Koekemoer gesê.

Hy het die water ingeduik en na die man geswem.

Koekemoer het met die motor nader aan die vlak kant probeer swem, terwyl die man aan een van die kantspieëltjies vashou.

Johan Koekemoer (47), oftewel Cokes, word in Taiwan as ’n held beskou nadat hy ’n man in dié land se lewe gered het. Hy is oorspronklik van Oudtshoorn in die Oos-Kaap. Hier is hy saam met sy vrou, Jani, en kinders, Mikayla (1) en Kaleb (4).Foto: Verskaf

“Ek het gedink as ons nader aan die kant is, sal dit makliker wees om die motor en die man uit die water te red wanneer hulp opdaag.”

Intussen het nog iemand opgedaag en ’n reddingsboei in die water gegooi. Koekemoer het die man se een arm om die reddingsboei gehaak en met hom na die oewer geswem.

“Ek kon nie dadelik met die man kant toe swem nie, want hy het my in die eerste plek nie verstaan nie. Ek kon nie vir hom sê wat om te doen of om kalm te bly nie. Sou ek dit doen, kon ek myself in gevaar stel.”

Die man is uit die water gered en het Koekemoer in gebroke Engels bedank. Behalwe vir ’n paar kneusplekke is hy nie ernstig beseer nie. Die ambulans en polisie het op die toneel opgedaag.

Die luukse wit Bentley is sowat ’n uur later uit die water gehaal. Die voorruit was gebreek en die voorkant was weens die impak van die water vol duike.

Volgens Koekemoer blyk dit dat die man sy sigaretstompie in die asbakkie wou gooi. “Die oomblik toe hy weer opkyk, het die pad in twee verdeel en was hy op die verkeerde deel wat reguit die dam in lei,” het Koekemoer gesê.


Meer oor:  Taiwan  |  Dam  |  Redding  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.