Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Suid-Afrikaners wat land wil verlaat, weggewys by lughawens

Baie Suid-Afrikaners is Sondag by lughawens weggewys, selfs nadat Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, Saterdag aangekondig het dat noodsaaklike reise hervat word vir diegene wat wil terugkeer na lande waar hulle werk of studeer.

Motsoaledi het in ’n mediaverklaring gesê Suid-Afrikaners mag slegs vir werk, studie, mediese hulp en om na hul gesinne terug te keer die land verlaat, of as hulle permanente verblyfreg opneem.

Ter illustrasie.Foto: Unsplash

Stawende dokumente word benodig.

Volgens Motsoaledi moet Suid-Afrikaners wat in hierdie kategorieë val en aan die kriteria voldoen, e-pos stuur aan Covid19travel@dha.gov.za waarna hulle ’n e-pos-boodskap met toestemming sal ontvang.

Mense wat as ’n groep aansoek doen, kan een e-pos-boodskap stuur met die stawende dokumente vir elke lid van die groep.

Beverley Schäfer, die koördineerder van die groep Locked in South Africans (Lisa), het gesê hoewel die toegewing ’n groot oorwinning vir hulle is, is daar steeds mense wat verhoed word om te kan vlieg.

Netwerk24 het Vrydag berig baie Suid-Afrikaners wat oorsee woon en werk, kan die einde van die maand sonder ’n inkomste sit as die regering hulle nie help nie.

’n Groep van 3 500 Suid-Afrikaners,wat sedert die staat van inperking afgekondig is in Suid-Afrika vasgekeer is, het hulle by Lisa aangesluit.

Hulle het met die regering probeer onderhandel en nadat hulle geen terugvoering ontvang het nie, is ’n dringende saak by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Baie van die lede het werkgeleenthede in die buiteland gekry en het alles in Suid-Afrika opgegee. Sommiges is in die proses om te immigreer en die gesinne sit nou sonder ’n huis, inkomste of mediese fonds.

Ander het weer vir familie in Suid-Afrika kom kuier en kon sedert die inperking begin het nie terugkeer na hul werk in die buiteland nie. Die kans is nou groot dat hulle aan die einde van die maand hul werk, verblyf en ander bates kan verloor.

Motsoaledi het Saterdag nadat die saak by die hof ingedien is sy aankondiging gemaak. Schäfer sê egter dit het nie ’n verskil gemaak nie, want baie mense wat Sondag reg was om die land te verlaat, is gekeer omdat die regulasies nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie.

Kaartjies kan tot R100 000 kos en Schäfer werk saam met internasionale lugdienste asook plaaslik gehuurde vliegtuie om vlugte te kry sodat mense die land kan verlaat.

Adrian Roos, DA woordvoerder oor binnelandse sake, het in ’n verklaring gesê dit is ’n groot probleem en kan tot vyf dae neem om dit te publiseer. En dan is dit dalk te laat.

Hy het Motsoaledi gevra om hierdie riglyne dringend amptelik te publiseer.

Roos het e-pos gestuur na die adres wat Motsoaledi Saterdag verskaf het, maar steeds die ou riglyne ontvang.

“Nog ’n outomatiese e-posboodskap het aangedui die mense wat wil reis, kan vyf dae wag vir ’n besluit. Dit beteken die Suid-Afrikaners is steeds nie vry om die land te verlaat nie.”

Roos sê as die bedoeling is om tot 1 Junie te wag voordat hierdie maatreëls in werking tree, kan dit minstens twee weke neem voordat enigiemand die land kan verlaat.

“Dit is onaanvaarbaar.”

Volgens Roos moet daar niks wees wat dié mense keer om die land te verlaat as hul dokumentasie in orde is nie.

Siya Qoza, Motsoaledi se woordvoerder, het nie onmiddellik op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.