Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Suidooster' se Carmen groet ná groot verlies

“Ek kan nie sonder jou nie, ek wil nie, ek weet nie hoe nie, Carmen. Ek is niks sonder jou nie.”

Rhafiek en Carmen strooi hul baba, Mikhail, se as in die see.

Só het Rhafiek Samsodien (vertolk deur Irshaad Ally) in Vrydagaand se episode van Suidooster met trane in sy oë by sy vrou, Carmen (Desiré Gardner), gepleit.

“Ons is deur so baie saam.”

Dié twee karakters het opslae gemaak met hul troue oor geloofsgrense heen, kykers laat naels kou in ’n gyseldrama en is saam deur die trauma van ’n swangerskap met ’n gestremde baba én die se dood.

Nou is Carmen op pad weg uit Ruiterbosch omdat die plek – en veral haar “Fiekie” – haar te veel aan haar kleinding herinner.

Kykers sien haar Dinsdagaand vir oulaas in dié kykNET-sepie.

Kykers sien haar Dinsdag vir oulaas.

“Ek kan my 100% vereenselwig met die kykers wat sê sy is selfsugtig,” het Gardner (35) aan Rapport gesê, “maar trauma en verlies het ’n manier om die autopilot uit jou uit te bring.

“Dis in Carmen se DNS, haar persoonlikheidstipe, om weg te hardloop as dinge vir haar te moeilik raak. Dis hoekom haar verlede haar ingehaal het met JP (Frank Rautenbach), want sy vee net probleme onder die mat en gaan aan met haar lewe.”

Carmen en Rhafiek se baba, Mikhail, het aan Edwards-sindroom, ’n seldsame en ernstige afwyking, gely.

Die toneel waarin die twee ná sy dood geskok in die hospitaal in mekaar se arms sit met die spore van trane op hul wange, gaan kykers nog lank bybly.

“Dit is een van die swaarste verliese wat enige mens kan ervaar,” sê Gardner. “Om die pyn so eerlik as moontlik uit te beeld van ’n ma wat ’n kind verloor was natuurlik vir my ’n baie groot uitdaging, aangesien ek self ’n ma is met twee kinders (die agtjarige James en vierjarige Robin).”

Desiré Gardner, oftewel Carmen Samsodien, groet “Suidooster” ná vyf jaar op die stel.

Gardner meen 'n mens kan niemand in hul rouproses oordeel nie. Almal doen dit op hul eie manier.

“Selfs hier waar Carmen besluit om weg te gaan. Dis ’n harde besluit en sy maak vir Rhafiek baie seer, maar dit is uiteindelik hoe sy die rouproses deurmaak. En dis uiteindelik hoe sy daardie besluit neem. Ek dink dit is baie belangrik om te wys mense verwerk verlies op verskillende maniere.”

Gardner groet Suidooster ná ongeveer vyf jaar om meer tyd saam met haar kinders deur te bring. Sy was voorheen omtrent agt jaar in Binnelanders te sien as die verpleegster Daleen Oosthuizen.

Sy wil nou fokus op vertaling, skryfwerk en aanlyn dramakursusse.

“Ek wil net ’n bietjie meer ma wees,” sê sy. “Ek wil ’n bietjie meer tyd by die huis kan bestee. Al is ek dol besig en iemand sê James het sy skoene vergeet of wat ook al dan kan ek gou-gou ry skool toe en vir hom vat. Ek wil net 'n bietjie balans skep.

“Ek is so lief vir die sepie en natuurlik die mense by Suidooster, maar ek weet dit is wat ek nou moet doen en ook fokus op my skryfwerk.”

Sy gaan ’n eenvroustuk wat sy 20 jaar gelede geskryf het na verwagting later vanjaar opvoer en sal ook vlugtig te sien wees in ’n reeks op Via, sê Gardner.

Meer oor:  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.