Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Suiker Britz se vrou kom op lyk af
Genl.maj. Suiker Britz

Hulle het hom destyds op skool in die Vrystaat al “Suiker” gedoop, omdat hy so vinnig kon hardloop met ’n rugbybal.

Jare later, het die befaamde genl.maj. Suiker Britz in 1999 ná byna 40 jaar diens afgetree as die polisie se nasionale bevelvoerder van die destydse moord-en-roof-, en latere eenheid vir ernstige geweldsmisdaad.

Sy gesondheid het, veral weens kanker, later probleme gegee.

Vrydagmiddag omstreeks 12:00 het die 74-jarige Britz sy eie lewe in die tuin van sy huis in Wingatepark in die ooste van Pretoria geneem.

Sy vrou, Annetjie, het sy lyk daar met ’n skietwond gevind.

Genl.maj. André Wiese, gebiedsbevelvoerder van die Tshwane-Oos-polisie, het bevestig dat geen misdaad vermoed word nie.

Britz, gedoop Karel Johannes, hoewel bitter min mense hom so geken het, het verskeie hoëprofielsake op sy kerfstok as polisieman gehad.

Daaronder was die ondersoek na die Mei 1983-bomontploffing in Kerkstraat, Pretoria, sowel as die pedofiel Gert van Rooyen-saak. Hy was ook betrokke by die inhegtenisnemings van verskeie berugtes in die bende-wêreld.

’n Oudkollega, afgetrede genl.maj. Bushie Engelbrecht, het Vrydag gesê hy is nog verslae oor die tragiese nuus van Britz se afsterwe.

“Ek was in ’n stadium sy tweede in bevel. Ons het ’n lang pad saamgeloop, seker so van 1976-’77 af. Ons kinders het saam grootgeword,” vertel Engelbrecht.

Hy onthou Britz was eers ’n polisieman in die Vrystaat. Toe kom hy na Silverton, Pretoria, as ’n luitenant.

“Ons was ook saam by Hammanskraal. Hy was later moord-en-roof se hoof in Pretoria, voordat hy later nasionale hoof geword het,” vertel Engelbrecht.

Talle ander oudkollegas het net die hoogste lof vir Britz gehad en hom onder meer beskryf as “ ’n baie goeie speurder, sonder twyfel”, terwyl ander onthou het hoe hy hulle as “rou” polisiemanne touwys gemaak het.

“Hy het ’n magdom kennis en ervaring gehad,” het een bygevoeg.

Oudbrig. Anneke Pienaar, destydse hoof van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, het gesê dié afdeling het ook in ’n stadium onder Britz geval.

“Hy het ons gereeld gehelp met ondersoeke en leiding gegee,” sê sy.

* Britz word ook deur twee kinders uit sy eerste huwelik en verskeie kleinkinders oorleef. Sy eerste vrou, San, is destyds self weens kanker dood.

Meer oor:  Suiker Britz  |  Selfdood  |  Dood  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.