Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Suiker Britz was ’n legende in polisie’

Hand op die hart, op aandag, trots geklee in blou, maar met strak en hartseer gesigte.

Die begrafnisbrief tydens ’n roudiens vir genl.maj. (afg.) Suiker Britz.. Foto: Andrea Küsel

Só het oud-generaals Donderdagoggend ’n erewag gevorm om afskeid te neem van genl.maj. (afg.) Suiker Britz (74) op ’n roudiens in die NG gemeente Elarduspark, Pretoria.

“Hy was ’n ware legende in die polisie. Hy was skerpsinnig, ’n briljante ondersoekbeampte en ’n ster vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Hy sal gemis word,” het oudgenl. Johan van der Merwe, voormalige nasionale polisiekommissaris, voor die diens gesê.

Britz het op 30 November sy eie lewe in die tuin van sy huis in Wingatepark in die ooste van Pretoria geneem.

Sy vrou, Annetjie, het sy lyk daar met ’n skietwond aangetref.

’n Emosionele Annetjie is Donderdag gedurende die roudiens deur familie en vriende ondersteun.

“Suiker is ook geweldig deur mense in die departement van justisie gerespekteer. Regters, landdroste en staatsaanklaers het almal respek vir hom gehad. Hy het innoverende metodes in sy speurwerk gebruik en hy het altyd by die waarheid gehou,” sê Van der Merwe.

Britz was 40 jaar lank deel van die polisiediens totdat hy in 1999 as die polisie se nasionale bevelvoerder van die destydse moord-en-roof-eenheid afgetree het.

In sy loopbaan het hy met hoëprofielsake gewerk en sy kollegas vertel dat moordenaars en ander misdadigers nie ’n kans teen hom gestaan het nie.

Hy was onder meer betrokke by die ondersoek na die bomontploffing in Kerkstraat, Pretoria, in Mei 1983. Hy het ook die berugte pedofiel, Gert van Rooyen, ondersoek.

Lt.genl. (afg.) Johan Ferreira, ’n oudkollega, skryf in ’n huldeblyk sy paaie met Britz het gekruis toe hulle albei in 1972 aangestel is as luitenante by die Silverton-polisiekantoor in Pretoria.

“Hy was oral bekend as “Suiker”. Die enigste mens wat hom op sy naam, Karel, aangespreek het, was San – sy eerste vrou wat ’n paar jaar gelede oorlede is.”

Genl.maj. (afg.) Suiker Britz (74) Foto: Brenda Muller

Ferreira skryf dat Britz vinnig naam gemaak het as ’n speurder wat altyd sy man gevang het.

“As die misdadigers net die naam Suiker Britz gehoor het, het hulle na ander oorde uitgewyk. Een ding wat ek van Suiker onthou, is dat ’n horlosie nie sy baas was nie. As hy en sy manne op die spoor van ’n misdadiger was, het hulle deur die ag en nag sy spoor gevat totdat hy agter tralies was.”

Die bynaam “Suiker” kom omdat hy so vinnig met ’n rugbybal kon hardloop op skool.

Jaco Breytenbach, ook 'n oudpolisieman, sê Britz was ook ’n mentor vir jonger polisielede.

“Hy was toeganklik en jy kon na hom toe gaan as jy ’n probleem gehad het. Boonop het hy ’n vreeslike fyn humorsin gehad en het hy daarvan gehou om poetse te bak.”

Britz het gesondheidsprobleme gehad weens ’n stryd teen kanker.

Britz se familie het in die begrafnisbrief almal bedank wat verlede Vrydag hulp gebied het op die toneel waar hy sy lewe geneem het.

“Dankie vir die saambid vir ons familie, die telefoonoproepe, elektroniese boodskappe, blomme en eetgoed. Vir alles sê ons dankie! Dit sal ons bybly.”

Britz word ook oorleef deur twee kinders uit sy eerste huwelik en verskeie kleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.