Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Suna van SAUK-8 dood aan 'gebrokehart-sindroom'

Die familie van Suna Venter, SAUK-vervaardiger, het Donderdag haar dood bevestig.

"Dit is met groot hartseer dat ons die dood van die SAUK senior vervaardiger van nuus en aktualiteitsprogramme by RSG, Suna Venter, aankondig," lui die verklaring. Venter (32) se lyk is Donderdagoggend in haar woonstel in Fairland, Johannesburg, aangetref.

Foeta Krige en Suna Venter.

Sy is onlangs gediagnoseer met die harttoestand streskardiomiopatie of "gebrokehart-sindroom", wat glo veroorsaak word deur trauma en lang periodes van onnatuurlike stres.

Venter was verlede jaar in die nuus toe sy en sewe kollegas deur die SAUK geskors is nadat hulle hul kommer uitgespreek het oor onreëlmatige inmenging in die nuuskantore en 'n onwettige redaksionele beleid wat by die SAUK geimplimenteer is. Dit het veral verband gehou met die redaksionele beleid oor die uitsaai van gewelddadige protesaksie.

Hulle is onmiddellik ontslaan maar later heraangestel nadat die arbeidshof bevind het dat hul afdanking ongeldig was. 

Ten spyte van hul oorwinning en 'n parlementêre ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek het, was Venter die slagoffer van volgehoue intimidasie, viktimisering en doodsdreigemente.

Oor die afgelope jaar het sy verskeie dreigende SMS-boodskappe ontvang.

Daar is by herhaling by haar woonstel ingebreek, haar motor se remkabels is gesny en haar motorbande stukkend gesteek.

Sy is gewond en ontvoer en aan 'n boom vasgebind by die Melville-koppies terwyl die gras rondom haar aan die brand gesteek is.

Op 'n ander geleentheid vroeër vanjaar is sy in die gesig geskiet met 'n onbekende wapen en is sy geopereer om die koeëlstukkies uit haar gesig te verwyder. Sy is die afgelope jaar drie keer aangerand. 

Die mense naaste aan haar glo dat haar toestand vererger of veroorsaak is deur die gebeure van die afgelope jaar.

Venter het haar agt jaar gelede by die SAUK as 'n vervaardiger aangesluit.

Foeta Krige, uitvoerende vervaardiger by RSG, sê sy was van die begin af baie passievol oor internasionale nuus en aktuele sake. Gedurende haar tyd as vervaardiger was sy betrokke by Gift of the Givers in verskeie humanitêre sendings in Libië, Gaza, Egipte en Sirië.

"Sy het so baie omgegee vir die situasie in Sirië dat sy direk nadat die oorlog begin het, verlof gevat het sodat sy vir RSG verslag kon doen vanaf die voorste linies," sê Krige.

Sy is gewond en ontvoer en aan 'n boom vasgebind by die Melville-koppies terwyl die gras rondom haar aan die brand gesteek is.

"Sy het tot en met haar dood passievol gebly oor die welsyn van kinders wat sy teëgekom het op hierdie sendings."

Vir die afgelope jaar, as deel van die SAUK-8, was haar belangrikste doelwit om 'n onafhanklike nuuskantoor, vry van redaksionele inmenging, tot stand te bring binne die openbare uitsaaier. 

Krige sê dat Venter een van die toegewydste en passievolste joernaliste was wat hy die voorreg gehad het om mee saam te werk. Selfs toe dokters aanbeveel het dat sy wegstap van die stresvolle werkomgewing by die SAUK het sy geantwoord dat sy nie kan gaan voordat die stryd gewonne is nie.

Venter word oorleef deur haar pa en ma Phillip en Christa Venter en haar broer en suster Wilhelm en Tessa.

* Volgens die Johns Hopkins Skool vir Geneeskunde word die toestand genaamd streskardiomiopatie (gebrokehart-sindroom) verbind met intense emosionele of fisieke stres en kan dit vinnige en erge swakheid van die hartspier veroorsaak. Dit is ‘n potensieel lewensbedreigende toestand wat volg op toestande soos rou, vrees, buitengewone woede of skok. Dit kan ook volg op ‘n beroerte, epileptiese aanval, bloeding of nadat iemand gesukkel het om asem te haal.

Die simptome van streskardiomiopatie is dikwels dieselfde as dié van ‘n hartaanval: Borspyn, kortasem, sweet, lighoofdigheid, naarheid en braking, swakheid en hartkloppings. Mense se bloedruk kan laag wees en dit kan lei tot hartversaking. Maar volgens die Johns Hopkins-skool is dit anders as ‘n hartaanval waar die selle van die hart sterf en in die geval van hierdie toestand word adrenalien en ander hormone gebruik om die hart tydelik te skok. Tog is dit in die meeste gevalle behandelbaar, maar in 5% tot 10% van gevalle keer dit terug.





Meer oor:  Suna Venter  |  Familie  |  Verklaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.