Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Suna wou nooit self die nuus wees nie’
Suna Venter hou die baba van ’n Siriese vlugteling vas.Foto: Ahmad Ghandour

Suna Venter (32) het nooit gedink sy gaan lank leef nie, sê haar universiteitsvriendin, Willemien Jansen.

“Suna het ’n ruk lank met haar gesondheid gesukkel, maar ek dink nie sy het gedink dit gaan só gebeur nie.

“Almal het eerder gedink sy sal doodgaan in ’n bomontploffing in Sirië,” sê Jansen nadat haar vriendin se lyk Donderdagoggend in haar woonstel in Fairland, Johannesburg, gevind is.

Venter was meer as net een van die SAUK-agt, sê sy.

Dit is ironies dat Suna soveel publisiteit gekry het, want sy wou nooit in die kollig wees nie.

“Sy het altyd vir my gesê sy wil nie die nuus wees nie, sy wil verslag doen oor die nuus.”

Jansen, wat in Polokwane woon, het Maandag laas met Suna gepraat.

“Sy het vir my ’n skakel aangestuur van haar diagnose (die harttoestand stresgeïnduseerde kardiomiopatie of “gebrokehart-sindroom”).

“Die dokters het begin Junie nog nie geweet wat presies is fout met haar nie.”

Suna VenterFoto: Ahmad Ghandour

Omdat kardiomiopatie vervorming van die hart veroorsaak en deur langdurige stres en trauma vererger word, het Venter Maandag vir haar gesê sy gaan haar lewe “herevalueer” nadat sy die ANC se vyfde beleidskonferensie bygewoon het.

Dié konferensie het Vrydag begin.

Jansen glo egter nie Suna sou ooit ’n stresvrye lewe lei nie.

“Ek dink nie sy sou ooit by die SAUK geloop het nie. ’n Mens sou haar daar moes uitdra.”

Baie mense het vir haar gevra of dit die moeite werd is om by die SAUK aan te bly.

“Sy het net gesê sy het die fight begin en sy sal dit deursien.”

Jansen en Venter het sowat ’n dekade gelede bevriend geraak toe hulle in die huiskomitee (HK) van die Erika-vrouekoshuis van die Universiteit Pretoria gedien het.

Sy giggel as sy terugdink aan haar vriendin.

“Suna was die girl wat jeans, tekkies en ’n T-hemp gedra het. Sy was nog altyd hands-on en dinamies, nes sy in haar loopbaan geken was.”

Venter het op universiteit al liefdadigheidswerk gedoen. Trouens was haar portefeulje as HK-lid juis Jool.

“Sy het gevoel haar doel op aarde was om ander te dien.”

Ook haar Siriese vriend, Ahmad Ghandour, sê Venter “het ongeregtigheid gehaat en was bereid om haar lewe op te offer om onskuldige mense te help”.

Suna VenterFoto: Ahmad Ghandour

Ghandour het Venter vier jaar gelede ontmoet toe sy saam met die nieregeringsorganisasie Gift of the Givers (GOTG) hulp verleen het aan die hospitaal in Darkoush waar hy ’n chirurg is.

“Die laaste keer wat ek Suna gesien het, was toe sy die Siriese grens van Turkye probeer oorsteek het, maar hulle wou haar nie in die land toelaat nie.

“Ons het die Siriese vlugtelingskole in Hatay (in die suide van Turkye) saam besoek. Sy het begin huil en (die kinders) gesoen,” sê Ghandour.

Ghandour sê Suna was groot pret en sy het baie grappe gemaak.

“Sy het gegrap en gesê as ons trou, sal ons kinders soos ek lyk en ’n joernalis soos sy wees.”

Ghandour sê Venter se hart was in ’n baie swak toestand.

“Sy het dag en nag gewerk en was altyd gestres.”

Die SAUK-agt-joernaliste is vroeër afgedank nadat hulle hulle verset het teen besluite wat Hlaudi Motsoeneng, toe bedryfshoof van die SAUK, oor redak­sionele beleid geneem het. Sewe van die agt is later heraangestel ná ’n bevel deur die arbeidshof.

Meer oor:  Suna Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.