Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Superheld’ (13) hou 7-jarige uit pitbulls se kake

’n Dapper skoolseun het waarskynlik ’n jong meisie se lewe gered toe hy haar teen twee pitbull-honde beskerm het wat hulle in die straat bestorm het.

Elro Kleinhans (13), ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron, het ernstige byt- en skeurwonde opgedoen toe hy die twee honde afgeweer het.

Hy het Elizé Pretorius (7), ’n vriendin se suster, op sy skouers gedra toe die honde hulle Vrydag naby hul huis bestorm het.

Elro Kleinhans in sy hospitaalbed.

Etricia Kleinhans (42), Erlo se ma, sê hy het verskeie wonde aan sy hande en arms opgedoen in ’n poging om Elizé te beskerm.

“Toe hy nie langer die honde kon afweer nie, het hy haar eenkant gegooi en die honde getakel.”

Hy het meer as 30 wonde aan onder meer sy arms, bene en voete opgedoen. Hy is na die Welkom Mediclinic gehaas waar sy wonde skoongemaak en geheg is. Sy toestand was teen Sondag stabiel.

Genadiglik het klein Elizé nie in die voorval seergekry nie, sê Kleinhans.

’n Dag ná die voorval het Elizé ’n mooi brief aan haar “superheld” geskryf.

“Baie dankie dat jy my gehelp het. Ek is baie lief vir jou. Jy is my superheld”, lui haar brief aan Erlo.

Kleinhans sê haar seun, Elizé en Lizé Pretorius en Juan Janse van Rensburg, was Vrydag omstreeks 18:30 op pad na hul huis toe twee pitbulls uit ’n erf enkele meter van hul huis op hulle afgestorm het.

Lizé en Juan kon betyds wegkom en hulp ontbied.

Die brief wat klein Elizé Pretorius aan haar “superheld” geskryf het.

Volgens Kleinhans het Erlo deurentyd vir Elizé die versekering gegee dat sy veilig by hom is en dat hy haar ten alle koste sou beskerm.

“Hy vertel toe die honde op hul afstorm en Elizé bang was, het hy deurentyd vir haar gesê het dat sy moet rustig wees. Hy het haar ook belowe dat sy nie sal seerkry nie.”

Sy sê selfs op pad na Welkom was hy oor háár bekommerd.

“Ek moes hom verskeie kere verseker dat sy oukei is en glad nie seergekry het nie.”

Kleinhans sê Lizé en Juan kon die hulp van Dirkie en Ronel van Tonder ontbied. Die egpaar het die honde verwilder en Elro kalm gehou.

Sy sê hulle is dankbaar dat die Here se hand oor haar seun was en dat die egpaar tot hul seun se redding gekom het.

“Erlo, jy is ons yster en ons is trots op jou. Jy het vir geen oomblik aan jouself gedink het nie. Mamma, Pappa en sussie is baie lief vir jou.”

Kleinhans sê hoewel hulle nie self met die eienaars van die honde gepraat het nie, het hulle Sondag ’n verklaring by die polisie oor die voorval afgelê.

“Dit is nou in die polisie se hande. Ons fokus nou op ons seun se herstel.”

Die eienaar van die honde kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Netwerk24 verneem die honde is steeds by die eienaar. ’n Dossier oor die voorval sal binnekort geopen word.

Meer oor:  Wesselsbron  |  Pitbull  |  Reddingspoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.