Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SuperSport praat met Nick, Naas

Terwyl bekgevegte fel in sosiale media gewoed het oor die Ashwin Willemse-herrie, het SuperSport sy kaarte styf teen die bors gehou.

Dit volg nadat Willemse Saterdagaand regstreeks op TV gesê het sy medeaanbieders, Nick Mallett en Naas Botha, is “neerhalend” teenoor hom en daarna die SuperSport-ateljee verlaat het.

Ashwin Willemse, oud-Springbok, wat Saterdagaand uit die SuperSport-ateljee gestap het.

Sedertdien word wyd en syd gegis oor wat presies tot sy vertrek aanleiding gegee het.

Vanuit SuperSport se kantore in Randburg is tot dusver geen duidelikheid verskaf nie.

Clinton van der Berg, ’n SuperSport-woordvoerder, het Sondag gesê daar is reeds “voorlopige gesprekke” met Willemse gevoer en hy sal vandag met Mallett en Botha vergader oor wat Saterdag gebeur het.

Die besonderhede van die gesprek met Willemse is volgens Van der Berg privaat.

“SuperSport is besig met ’n ondersoek om al die feite te vind. Vanselfsprekend beskou ons die situasie in ’n ernstige lig,” het hy gesê.

Van der Berg het voorts gesê regsadvies sal ingewin word oor die drie rugbyontleders se kontraktuele verpligtings.

Nick Mallett en Botha lag terwyl die drie stry oor wie se beurt dit is om te praat.

Op ’n vraag of dié ’n rassekwessie is en wat die uitwerking daarvan is, het hy gesê alle aspekte van die saak sal van vandag af ondersoek word.

Terwyl SuperSport versigtig is om die gebeure aan ’n rasklok te hang, is dit in sosiale media en in mediaverklarings merendeels deur ’n rasbril beskou.

Toko Xasa, minister van sport en ontspanning, het ’n beroep op SuperSport gedoen om Botha en Mallett te skors.

“Dit is duidelik dat daar na Willemse as ’n kwotaspeler verwys is deur sy medeaanbieders, ondanks die verskeie suksesse wat Willemse al op die veld behaal het.

“Indien hulle aanbly, sal dit beskou word as die goedkeuring van hul beweerde rassistiese gedrag.

“Die gedrag van sommige wit Suid-Afrikaners wat aanhou om te dink hul witheid verteenwoordig iets beters, moet end kry,” lui haar verklaring.

Die ANC in die Wes-Kaap het ook dit wat met Willemse gebeur het, veroordeel en Mmusi Maimane, DA-leier, het in ’n twiet gesê wat Willemse ervaar het, is betreurenswaardig die ervaring van te veel Suid-Afrikaners.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê in ’n verklaring dit is “kommerwekkend dat Xasa en Maimane in hul reaksie op hierdie betreurenswaardige voorval skynbaar reeds besluit het dat Botha en Mallett die skuld moet dra”.

Mallett en Botha het albei Sondag gesê hulle gaan nie kommentaar lewer oor die gebeure of die bewerings van rassisme nie.

Willemse kon nie vir kommentaar bereik word nie.

– Verslagspan: Hannes Kruger, Cobus Claassen, Stephen Nell

Meer oor:  Supersport  |  Transformasie  |  Rugby  |  Nick Mallet  |  Naas Botha  |  Tv  |  Ashwin Willemse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.