Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Suster geskok oor moord op oorlogsheld-broer

Haar jongste broer is nou haar beskermengel, soos die res van haar geliefdes wat sy al aan die dood afgestaan het.

So sê Eileen Strydom (77) van Struisbaai in die Wes-Kaap nadat haar jongste broer, Dave Wessels (65), ’n held van die Brug 14-veldslag tydens die Grensoorlog, Sondag wreed op ’n kleinhoewe op Viljoenskroon in die Vrystaat vermoor is.

Wessels se lyk is Sondag omstreeks 06:00 onder ’n bebloede duvet op sy kleinhoewe Avondster in Viljoenskroon aangetref.

Strydom, wat self vir 13 jaar in die weermag was, sê sy was verskriklik trots op haar broer en die dapperheid wat hy destyds getoon het.

Wessels is destyds ná Operasie Savannah in Angola met ’n Honoris Crux- goue medalje vir dapperheid vereer.

Dave WesselsFoto: Verskaf

Hy het in Desember 1975 in Angola ’n brug in ’n koeëlreën oorgesteek om ’n gewonde FNLA-soldaat na die Suid-Afrikaanse kant terug te bring.

Hy het ook later dieselfde dag probeer om ’n tenkwa te herwin toe hy in masjiengeweervuur gewond is.

Wessels, wat vol petrol was, is hierna vir maande in die hospitaal opgeneem waar sy linkerbeen onder die knie geamputeer is.

Met sy aftrede was hy ’n kommandant in die weermag op Bethlehem. Hy het ook op ’n plaas tussen Kroonstad en Viljoenskroon geboer.

Sy sê Wessels was sedert sy kinderjare, wat hulle onder meer in Lambertsbaai, Velddrif en Saldanha deurgebring het, maar ’n stil mens wat nie veel gepraat het nie.

“Sy skielike afsterwe en die wrede manier waarop hy van sy geliefdes weggeruk is, is ’n groot skok.”

Strydom sê hoewel sy Wessels sowat drie jaar laas gesien het, het hulle af en toe oor die telefoon gepraat.

Hy het haar altyd geterg en die kinders bang gemaak deur sy prostese af te haal.

“Hy is nou in die hemel saam met ons ouers, Elizabeth en Jack Wessels, my twee dogters, Ursula van Blommenstein en Yvette du Plessis, asook sy twee broers, Clifford en David Wessels. Hy sien nou van bo af na my om.”

Benewens Strydom laat Wessels ook sy ander sibbe, Thora Rhoodie, Richard Wessels, Leonard Wessels, Hazel Geldenhuys en Joan Ferreira, agter.

Dave Wessels in sy jonger dae. Foto: Verskaf
Meer oor:  Operasie Savannah  |  Eileen Strydom  |  Dave Wessels  |  Struisbaai  |  Viljoenskroon  |  Wes-Kaap  |  Moord  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.