Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Susters van Citrusdal saam begrawe
Elsa en Nicolette Smit. Foto: Facebook

Die susters van Citrusdal wat Saterdagmiddag saam in ’n motorongeluk op die pad tussen Velddrif en Piketberg dood is, sal volgende week saam begrawe word.

Elsa (58) en Nicolette (51) Smit van Citrusdal het Saterdag saam met twee vriende gaan eet toe die ongeluk omstreeks 17:00 op pad terug na Citrusdal gebeur het.

Volgens Alie Smit, hul broer, het Nicolette die motor bestuur. Na bewering het ’n aankomende voertuig by die afdraai na Goedverwacht voor Nicolette-hulle ingedraai. Die susters is op die toneel dood. ’n Voetganger is ook in die ongeluk getref.

Smit het Dinsdag gesê daar word ’n roudiens vir sy susters vir volgende Woensdag beplan, maar die besonderhede moet nog bevestig word. Dit sal by die NG kerk Citrusdal plaasvind.

“Ons gaan ’n tent buite opslaan sodat meer mense die diens kan bywoon.”

Smit sê die huis is stil waar hy saam met sy twee susters, wat nooit getroud is nie, in Citrusdal gewoon het. Hul ander suster, Christa Basson van Sedgefield, en Smit se dogter, Lizaan (21), is by die huis om mekaar te ondersteun.

Smit sê hulle troos hulself dat die susters, wat baie geheg was aan mekaar, saam weg is. “Hulle was so na aan mekaar en die een het niks sonder die ander een gedoen nie.

“Dit sou vir hulle albei baie moeilik gewees het om alleen aan te gaan,” sê Smit. Daarom is dit ook gepas dat hulle saam ter ruste gelê word.

“ ’n Mens verwag die dood, maar hy kom steeds onverwags,” sê hy. Hulle het Vrydag, ’n dag voordat hulle dood is, nog Elsa se verjaardag gevier.

Dit is nou herinneringe waaraan hulle vasklou. “Ons lag ’n bietjie, dan huil ons weer. Ons Smitte is baie emosioneel. Ons sal beslis nie kan praat op die begrafnis nie. Ons kan skaars ’n heildronk instel op verjaardae.

“Woensdag gaan ’n moeilike dag wees, want ons moet hulle gaan uitken. Daar moet ook papierwerk gedoen word voor die begrafnis,” sê hy.

Dit gaan volgens Smit goed met sy susters se vriende Carl Marx en Riaan van Staden, wat ook in die motor was gedurende die ongeluk.

Marx het Dinsdag ’n skoueroperasie gehad en het ook breuke in ’n ribbebeen, een van sy bene en ’n enkel. Van Staden se beserings is van die ligste en hy was die een wat die familie gekontak het om hulle te laat weet Elsa en Nicolette was in ’n ongeluk.

Meer oor:  Nicolette Smit  |  Citrusdal  |  Elsa Smit  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.