Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SUT wil krag bespaar met nuwe sonkragprojek
06 September 2018

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se nuutste sonkragprojek sal nog meer Eskom-ligte op die kampus afskakel.

Die SUT en die private maatskappy Karah Assets snoer kragte saam met ’n sonkragaanleg wat 10% van die universiteit se krag sal verskaf.

Die universiteit in Bloemfontein wil die jaarlikse kragrekening van sowat R11 miljoen laat daal en sy ekologiese voetspoor verklein.

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het 12 nuwe sonpanele opgesit wat die universiteit se kragrekening gaan laat daal. Van links is prof. Herman Vermaak, dekaan van die fakulteit ingenieurswese en inligtingstegnologie, prof. Henk de Jager, rektor, dr. Gary Paul, viserektor: hulpbronne en operasies, prof. Hesta Friedrich-Nel, assistent-dekaan van die fakulteit gesondheid en omgewingswetenskappe, prof. Alfred Ngowi, adjunk-rektor: navorsing, innovasie en samewerking, Martin Walzer, projekbestuurder: tegnies van Karah Assets, en Cobus Vermeulen, besturende direkteur van Karah Assets. Foto: Mlungisi Louw

Die SUT pak sedert 2013 sonkragprojekte aan en het in 2014 begin om geboue op die kampus van die kragtoevoerstelsel af te haal.

Dr. Gary Paul, adjunkvisekanselier van hulpbronne en operasies, sê dit is die universiteit se visie om die samelewing met sosiale en tegnologiese uitvindsels te beïnvloed.

“Die universiteit sal ’n beduidende afname in elektrisiteitskoste sien wanneer die projek in volle gang is.”

Die aanleg behoort einde volgende week voltooi te wees en sal dan vir die volgende twee tot drie jaar vir navorsingsdoeleindes gemonitor word.

Dit bestaan uit 12 sonopvangeenhede met ’n dubbele as wat elk byna dubbeld die hoeveelheid sonkrag opneem as dié van standaardeenhede met ’n enkele as op huise se dakke.

Elke eenheid se panele bevat sensors wat volgens die son draai, in lengte en breedte, en genereer so sonkrag vir minstens tien uur.

Martin Walzer, Karah Assets se projekbestuurder, sê die sensors meet die uitstraling wat opgevang word en beweeg die eenheid dan na die kant wat ’n tekort het.

Die glas-op-glas-tekstuur van die panele maak dit meer duursaam as standaardpanele en verhinder dat hitte opbou.

Volgens Cobus Vermeulen, besturende direkteur van Karah Assets, sal die aanleg tussen 50 en 70 middelklas-huishoudings van krag voorsien.

Hy sê die totale uitset van die aanleg is 153,59 kWp (piek kilowatt). ’n Gemiddelde huishouding gebruik ongeveer 3 kWp.

Die SUT en Karah Assets het ’n samewerkingsooreenkoms oor navorsing en verdere ontwikkeling.

“Ons word in die bedryf met baie tegnologies gevorderde kwessies gekonfronteer wat die bystand van ’n akademiese instelling verg om dit na die volgende vlak te neem,” sê Vermeulen.

Volgens hom is die aanleg uniek aan die Vrystaat en Suid-Afrikaanse universiteite.

’n Soortgelyke aanleg is in Pretoria by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) deur vennote van Karah Assets ontwerp.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kampus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.