Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Suur druiwe by ‘bankrot’ Solms Delta

Een van die Wes-Kaap se mees geprese landbou-bemagtigingsprojekte is nou op die randjie van algehele bankrotskap – drie jaar nadat dit in sakeredding geplaas is.

Werkers op Solms Delta. Foto’s: Marzahn Botha

Solms Delta, die bemagtigingsplaas net buite Franschhoek se “dag zero” is nou net om die draai, volgens Mahier Tayob, die huidige sakereddingspraktisyn.

Aan die einde van Junie was daar reeds nie genoeg geld vir werkers om hul volle lone te ontvang nie. Daar was ook nie taxigeld toe die skole Maandag heropen het nie en ’n plaaslike Anglikaanse gemeente en die skool op Pniël, die dorpie daar naby, moes kospakkies aandra om die honger plaaskinders te voed.

Meer as ’n dekade gelede is die plaas voorgehou as ’n model vir die bemagtiging van plaaswerkers nadat dit oorgeneem is deur Mark Solms, ’n professor in sielkunde en sy skatryk filantroop-vriend Richard Astor. Astor besit nog die buurplaas Lubeck-Delta en Zandvliet-Delta.

Met die twee se hulp is die Wijn de Caab-trust vir plaaswerkers gestig en het die plaaswerkers aandele in Solms-Delta verkry.

Die plaas is nooit suksesvol bedryf nie.

Geen koste is ontsien in die ontwikkeling van die plaas nie. ’n Spoggerige restaurant is gebou, werkershuise is opgeknap en bekende kunstenaars is genooi vir ’n jaarlikse oesfees waar Solms, uitgevat met ’n wit Panamahoed op die kop, dit saam met werkers op die plaaswerf uitgekap het.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het vlytig ingespring en, in ooreenstemming met hul 50-50-beleid, R56 miljoen aan nog 52 ha boerderygrond en ’n verdere R9 miljoen aan finansiering toegestaan.

Teen Julie 2017 was die vrolikheid egter op ’n einde en ’n sakereddingspraktisyn van PricewaterhouseCoopers (PWC) is aangestel om die plaas te probeer red.

Werkers sê hulle weet nie of hulle betaal gaan word nie.

Twee jaar later het PWC van die skynbaar sinkende skip gespring en ’n nuwe praktisyn aangestel. Ook hy kon skynbaar nie hond haaraf maak nie.

Plaaswerkers was hierdie week skugter om met Rapport te gesels uit vrees dat hulle geviktimiseer of “gekoggel” kan word.

“Niemand pay nie, so ons kan nie eers mekaar uithelp nie,” het een werker gesê op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie. Volgens nog een moet snoeiwerk gedoen word, maar die lang gras tussen die wingerdstokke is nie verwyder nie.

Nog een: “Jy kan nie regte wyn maak nie. Die gehalte is swak en net kelders wat ’n swakker wyn verkoop, koop ons druiwe aan.”

Prof. Mark Solms sê hy het ’n span deskundiges saamgestel om ’n sakeplan vir die sukkelende Soms Delta uit te werk. Foto: Deon Raath

Volgens die werkers het die algemene instandhouding van die werkershuise agteruitgegaan.

Hulle sê Solms moet terugkom, want hulle glo hy het hul lewensomstandighede verbeter toe hy 15 jaar gelede oorgeneem het.

Ons kan nie vir ewig met die sakeredding werk en leef nie, sê een.

Volgens Tina Rafael van Tayfin Forensic and Investigative Auditors het Tayob die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling verskeie keer ingelig dat Solms Delta-plaas nie ’n lewensvatbare sakeonderneming is nie, dat die plaas nooit suksesvol onder sy vorige eienaars bedryf is nie, en dat dit derhalwe ’n nielewensvatbare sake-entiteit bly.

Sy sê anders as konvensionele ondernemings is die departement as aandeelhouer meer behep met werknemers, begunstigdes en plaasbewoners as met die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van die landgoed.

Tayob het die bedryfskoste tot ’n minimum besnoei, maar omdat hulle opdrag het om nie die loonrekening en arbeidsmag te verklein nie, is die rehabilitasie van die onderneming nie moontlik nie.

“Ons het die departement maande tevore ingelig dat ons ‘dag zero’ nader, maar die departement was nie behulpsaam nie en vasgevang in sy eie rompslomp en burokrasie.”

Sy sê Tayob het al in 2019 by die departement gepleit om die plaas uit sakeredding te haal. Dit is geweier.

Volgens Tayob is daar twee opsies oor: Likwidasie of aaneenlopende kontantinspuitings. Hy het intussen probeer om die boerdery te diversifiseer om die produktiwiteit en inkomste te probeer verbeter.

Volgens Rafael kan verbetering slegs geskied indien die departement werklik betrokke raak en daar ’n kapitaalinspuiting is.

Sy het Solms se inisiatief om MBA-gegradueerdes toe te laat om ’n toepaslike sakemodel vir die plaas te ondersoek, verwelkom.

Solms het by navraag aan Rapport bevestig dat hy die hulp van ’n span deskundiges bekom het om ’n sakeplan op te stel waarmee Solms Delta uit sakeredding kan kom. Hy sê die plaas se toekoms is onseker, maar hy hoop om met die plaaswerkers se leierskap die plaas uit sakeredding te bring en om beleggers vir ’n langtermyn-sakeplan te vind.

Die departement het nie op enige navrae gereageer nie.

Meer oor:  Sakeredding  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.