Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swaar reën bring kitsvloede in Gauteng
Dreigende stormwolke hang oor Vereeniging. Kort hierna is verskeie kitsvloede in die dorp aangemeld. Foto: De Wet Pienaar

Vrydag se swaar reën oor groot dele van Gauteng het aanleiding gegee tot verskeie kitsvloede.

In Vereeniging veral het dele van die dorp se strate meer soos riviere gelyk.

Twee mense is ook lig beseer in Sharpeville toe die afdak van ’n vulstasie in die middag se hewige reën- en haelbui omgekantel het.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het die afdak van die Global-vulstasie in Sharpeville, wat aan Vereeniging grens, op ’n klein bussie, ’n taxi en ’n ligte voertuig beland.

Serst. Thembeka Koago, plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig dat een van die beseerdes in een van die voertuie gesit het toe die dak omgekantel het.

Koago kon self nie die toneel besoek nie, omdat paaie na die area tydelik gesluit was weens die swaar reën wat die verkeer ontwrig het, sê sy.

Die reën het ook by die Three Rivers Square- inkopiesentrum in Vereeniging skade aangerig. Inkopiegangers was vinnig om video’s van die skade op sosiale media te deel. Daarin kan gesien word hoe die reënwater deur die dakke van verskeie winkels stroom.

Watter paaie? Vereeniging se strate het Vrydag meer soos riviere gelyk ná hewige hael- en donderstorms wat oor die streek uitgesak het. Foto: De Wet Pienaar

Charis Newtons, portefeuljebestuurder van bemarking by die sentrum, het bevestig dat die sentrum reeds kontrakteurs aangestel het om winkeleienaars by te staan.

Sy kon nie dadelik bevestig hoeveel winkels in die sentrum geraak nie.

“Die reën was verskriklik. As jy gelukkig was, kon jy drie meter voor jou sien. Mense het orals ingeduik vir skuiling en motoriste het baklei vir parkeerplek onder die vulstasies se dakke om uit die hael te kom,” het De Wet Pienaar, ’n inwoner van Vereeniging, aan Netwerk24 gesê.

Volgens De Wet was daar heelparty gevalle waar motorbestuurders hul voertuie uit die vloedwaters moes stoot.

Jan Vermeulen, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het bevestig dat ’n waarskuwing vir swaar donderstorms en reënbuie vir die hele Gauteng Vrydag uitgereik is.

Volgens hom sal die storms tot omstreeks 23:00 veral oor die suidelike dele van die provinsie woed.

Saterdag sal die waarskuwing wegval, maar daar sal nog ’n 60%-kans vir buie en donderstorms in die provinsie wees, het Vermeulen gesê.

Sondag sal die kanse vir storms afneem tot 30%, maar geen hewige storms word verwag nie.


Die dak van die Global-vulstasie in Sharpeville het Vrydag weens die swaar weer omgekantel. Foto: ER24
’n Motor is ook erg beskadig in die voorval by die Global-vulstasie in Sharpeville. Foto: ER24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.