'n Kouefront het Kaapstad Dinsdagoggend met mening getref ná 'n nag van swaar reën wat tot in die oggendure geduur het.
Charlotte Powell, woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuursentrum, het bevestig hulle is in kennis gestel van oorstromings in formele en informele woongebiede.
Die verkeer is vroegoggend veral op die N1 en N2 erg ontwrig.
"Dit is hel. Dit het my twee uur geneem om van Brackenfell in die noordelike voorstede tot by die M5-wisselaar naby die stad te ry. Ek het reeds om 05:30 gery," het 'n motoris aan Netwerk24 gesê.
Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het 'n beroep op motoriste gedoen om versigtig te bestuur nadat hy vroegoggend verby 'n ongelukstoneel naby Goodwood op die N1 gery het waar 'n bakkie op 'n middelman beland het.
"Motoriste moet onthou die pad is glad en dit vat langer om te stop wanneer hulle rem. Die sigbaarheid is ook beperk," sê Africa.

Tonele Dinsdagoggend op die N1-hoofweg. Foto: Jaco Marais
Daar was minstens vier ongelukke op die N1-hoofweg tussen die R300 en die middestad, terwyl die verkeer ook op die N2 ontwrig is.
- Twee ongelukke naby die Monte Vista-afrit naby Goodwood. Een was in die rigting van die Paarl en die ander een in die teenoorgestelde rigting.
- Ongeluk by die Durbanweg-afrit in die rigting van die stad.
- Ongeluk op die N1 rigting Paarl naby die N7-wisselaar by Century City.
- Ongeluk op N2 inkomend voor die Broadway-afrit.
- Die N2 het stil gestaan by die Jakes Gerwel-afrit op die N2.
- Ongeluk op N2 uitgaande voor die R300-wisselaar. Daar is padwerke in die gebied wat sake verder bemoeilik.
- Daar is ook oorstromings op die N2 by die Robert Sobukwe-afrit.

Oorstroomde paaie in Paardeneiland. Foto: Verskaf

'n Motoris trotseer Dinsdagoggend 'n parkeerterrein in Paardeneiland wat oorstroom het. Foto: Jaco Marais
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê daar is Dinsdag twee kouefronte op pad.
"Die eerste een is reeds hier en die tweede kouefront sal na verwagting die Kaap later Dinsdagoggend tref," sê die SAWD.