Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swaard gelig oor kop van Uitenhage-DBV

Die risiko dat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage sy deure sal moet sluit, is vir eers afgeweer.

Dit kom nadat Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, Donderdag die DBV se kontrak met die metro met 12 maande verleng het.

Mongameli Bobani, burgemeester van Nelson Mandelabaai, Yolisa Pali, burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid, saam met Deirdré Swift en Thembi Maloni van die DBV.

Die metro se kontrak met die DBV het reeds einde Junie verstryk, waarna die metro die DBV maande lank nie vir sy dienste betaal het nie. Die DBV het intussen sy dienste op eie koste gelewer, maar het einde verlede jaar gewaarsku hy het nog net genoeg geld oor om sy personeel vir twee weke te betaal.

Die metro het uiteindelik op 20 Desember sy beloftes gestand gedoen en die agterstallige geld betaal.

Bobani het Donderdag persoonlik die nuwe kontrak by die DBV gaan oorhandig. Dit beteken alle administratiewe rompslomp is nou uit die weg geruim en die metro kan die DBV voortaan wettiglik vir sy dienste vergoed.

Tydens Donderdag se besoek aan die DBV het Bobani en Yolisa Pali, burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid, die perseel ondersoek en hulle is ingelig oor die uitdagings wat personeel daagliks ervaar.

Die DBV neem meer as 30 diere per dag in, waarvan sommige nie in ’n goeie toestand is nie.

Daar word van die DBV verwag om die diere te voer en na hulle om te sien, sowel as om mediese dienste te verskaf.

“Dit is baie hartseer om te sien daar is so baie diere wat mishandel word en waarvan bloot vergeet word.

“Hulle kan nie na hulself kyk nie, so dit is ons plig. Ons as die metro is toegewyd om te verseker dat die DBV hulp kan verleen aan die diere,” het Bobani gesê.

Bobani het uit sy eie 150 kg hondekos aan die DBV geskenk en gaan dié skenking oor die volgende ses maande maandeliks herhaal.

Attie Erasmus, lid van die DBV se uitvoerende raad, sê hulle is dankbaar vir die moeite wat Bobani gedoen het om die administratiewe haakplekke uit te stryk sodat die DBV weer geld van die metro kan ontvang.

“Dit is ’n riem onder die hart om te weet dat ons kontrak hernu is en dat ons sal kan voortgaan om diere te help.”

Meer oor:  Mongameli Bobani  |  Uitenhage  |  Dbv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.