Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Swak skoolstelsel grootste struikelblok vir SA’

Onderwys is die grootste struikelblok tot sosio-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika, volgens ’n studie wat Donderdag deur die sentrum vir risiko-ontleding (CRA) bekend gemaak is. Die studie het die stand van onderwys en die skoolstelsel in die land ondersoek.

Hoewel daar onder die demokratiese bedeling positiewe vordering gemaak is in die onderwys, is daar ernstige kwessies wat ’n bedreiging is vir sosio-ekonomiese ontwikkeling, en werkloosheid, armoede en ongelykheid vermeerder, sê Frans Cronjé, direkteur van dié sentrum en skrywer van die verslag.

Daar is drie groot knelpunte wat in die verslag beklemtoon word: Die swak gehalte van wiskundeonderwys, die lae koers waarteen swart mense tersiêre onderrig ontvang en die hoë uitvalsyfer van hoërskoolleerlinge.

Elke student met ’n agterstand verdien ideaal om gemonitor te word, om leiding te kry ten opsigte van studiegewoontes en gehelp te word om aan te pas in ’n vreemde omgewing. Of dit tans toereikend plaasvind, is te betwyfel.

Cronjé sê indien ’n leerling wiskunde goed slaag, is dit ’n belangrike aanwyser of dié jong persoon die middelklas sal kan betree.

“Terwyl wiskundeonderrig deur die bank swak is, is dit die swakste in die armste van skole. Dit wys sonder twyfel dat skoolonderrig armoede en ongelykheid in ons samelewing bevorder.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), stem saam dat wiskundeonderrig nie op standaard is in Suid-Afrika nie.

“Ongeveer twee jaar gelede het slegs 11% van leerlinge in gr. 9 die jaarlikse nasionale assesseringstoetse (ANA’s) in wiskunde geslaag. Kenners het toe gesê die pleister moet nie in gr. 9 geplak word nie; daar moet baie meer gedoen word in die grondslagfase. Die beste onderwysers moet in die grondslagfase geplaas word sodat ’n goeie basis gebou kan word,” sê Deacon.

Prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria (UP), stem saam dat wiskundeprestasie “uiters kommerwekkend ontoereikend is,” veral in armer gebiede.

Maree sê die regering moet dit aantreklik maak vir goeie onderwysers om wel in arm gebiede onderrig te gee. Hy stel voor dat alle afstuderende wiskundeonderwysers twee jaar lank verpligte gemeenskapsdiens verrig. “ ? Rits voordele kan gekoppel word daaraan om gemeenskapsdiens te gaan doen in skole in die mees uitdagende omgewings.”

Ons is bekommerd, want die land gooi baie geld in onderwys in, maar wat ons uitkry, is skokkend

Iets wat verwant is aan die probleem van te min swart leerlinge wat tersiêre onderrig ontvang, is dat die middelklas nooit gaan uitbrei indien slegs 15% van swart mense hoër onderrig ontvang nie.

Slegs 3,1% van swart mense oor die ouderdom van 20 het ’n universiteitsgraad, in vergelyking met 13,9% van Indiërs en 18,3% van wit mense.

“Elke student met ’n agterstand verdien ideaal om gemonitor te word, om leiding te kry ten opsigte van studiegewoontes en gehelp te word om aan te pas in ’n vreemde omgewing. Of dit tans toereikend plaasvind, is te betwyfel,” sê Maree.

“Leerlinge uit uiters afgeleë, armoedige gebiede neem dikwels tussen 12 en 18 maande om aan te pas op universiteit, waarna hulle wel begin vorder,” sê hy.

Die derde probleem is dat net meer as die helfte van alle leerlinge nooit hul hoërskoolloopbaan voltooi nie.

“In ’n ekonomie waarin mense met baie vaardighede bevoordeel word, is dit onwaarskynlik dat die meerderheid van dié kinders ooit waardevolle indiensneming sal vind,” skryf Cronjé in die verslag.

Deacon stem saam met dié stelling en sê slegs 34% van alle leerlinge wat vir gr. 1 inskryf, kry op die ou einde ’n kwalifikasie.

Cronjé sê dié drie kwessies lei tot die gevolgtrekking dat ’n swak skoolstelsel die grootste struikelblok is vir die vooruitgang van die land. Deacon stem saam en sê die skolestelsel skep nie werklose jong mense nie, maar jong mense wat nie in diens geneem kan word nie vanweë ’n tekort aan kwalifikasies.

“Ons is bekommerd, want die land gooi baie geld in onderwys in, maar wat ons uitkry, is skokkend,” sê hy.

Kitsfeite

Die studie het verskeie positiewe en negatiewe aspekte uitgelig. Hier is van die feite:

Positief:

- Voorskoolse inskrywings het sedert 2000 met 270,4% gestyg.

- Die getal mense ouer as 20 sonder enige skoolonderrig het gedaal van 13% in 1995 tot 4,8% in 2016.

- Inskrywings by universiteite het toegeneem met 289,5% sedert 1985, en met meer as 100% sedert 1995.

Negatief:

- Sowat 20% van gr. 9-, gr. 10- en gr. 11-leerlinge is herhalers, wat beteken dat hulle swak voorberei is in die laer grade van die skoolstelsel.

- Slegs 6,9% van matriekleerlinge slaag wiskunde met ’n punt tussen 70% tot 100%. Dié getal is laer as in 2008.

- In die armste skole sal slegs een uit 100 matriekleerlinge ’n onderskeiding in wiskunde ontvang.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.