Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aanklaer wat doodgery is ‘gesteld op reg, geregtigheid’

Hy het onder sy broer se vlerk grootgeword en hulle was soos ’n tweeling.

Só het Tswaledi Sekwati (53) se jonger broer, Welcome Sekwati, hom Dinsdag onthou.

Sy ouboet – hulle verskil vier jaar – is Maandag voor die hooggeregshof in Johannesburg deur ’n minibustaxi doodgery.

“Ek kyk na die deur en verwag om sy hartlike lag te hoor. Dit is baie hartseer wat gebeur het,” het Welcome gesê.

Hulle het Sondag oor die foon met mekaar gepraat.

“Hy wou hy weet hoe dit gaan, en die besorgde mens wat hy was – hy wou weet of ek al geëet het,” sê Welcome.

“Hy was ’n omgeemens en die gom wat ons familie aanmekaar gehou het.”

Tswaledi was Maandag onderweg na die hof vir een van sy sake toe ’n minibus glo ’n rooi verkeerslig verontagsaam het.

Volgens News24 het die Johannesburgse metropolisie gesê die ongeluk word ondersoek. ’n Saak van strafbare manslag is teen die bestuurder aanhangig gemaak en die voertuig is geskut, het Wayne Minnaar, die metropolisie se woordvoerder, gesê.

“Ons was baie na aan mekaar, seker omdat ons al twee swaksiende is en baie in gemeen gehad het,” het Welcome gesê.

Die twee broers het in Sekhukhune in Limpopo grootgeword. Tswaledi was die vierde van sewe kinders.

Hy het sy skoolloopbaan in 1972 aan die Siloe Skool vir Blindes in die destydse Pietersburg begin.

“Ek het later by hom aangesluit en ons het so saam-saam skoolgegaan. My broer het my geleer hoe om my skoenveters vas te maak,” sê Welcome.

Sy swak visie het sy broer nie ondergekry nie, maar eerder gemotiveer om harder te werk, sê Welcome.

In 1989 het Tswaledi sy BJuris-graad aan die Universiteit van Limpopo verwerf en vir ’n kort rukkie as prokureur gepraktiseer.

In die laat 1990’s het hy ’n pos aanvaar by die Staatsprokureur.

“Hy was vreeslik gesteld op reg en geregtigheid en kon handomkeer verander van sy jolige self as iemand se regte geskend word,” sê Welcome.

Die departement van justisie en korrektiewe dienste het in ’n verklaring ook sy hartseer oor die voorval uitgespreek.

Ronald Lamola, minister van justisie, het Maandag in ’n verklaring gesê Tswaledi se dood kom op ’n tyd wat “ons die beste onder ons nodig het om diens te doen”.

Hy het bygevoeg dat Tswaledi ’n besonderse Suid-Afrikaner was.

Hoewel hy swaksiende was, het hy nooit toegelaat dat dit in sy pad staan nie en hy het ’n onbesproke staatsamptenaar geword.

Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar volgens Welcome sal sy broer Saterdag in sy tuisdorp begrawe word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.