Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swanger vroue geraak deur Koffiefontein-onrus

Vroue op Koffiefontein wat geboorte moet skenk word in ’n krisis gedompel terwyl die onrus op die dorp by die dag vererger.

“Kan die ambulanse nie maar toegelaat word om te ry nie? Hier is ’n klomp swanger vroue en sieklike mense. Nou is iemand in kraam en jy kan nie deurkom nie. Hoe maak jy met so ’n situasie,” vra Dolly Remmley, ’n inwoner van Rooibult, op Koffiefontein se gemeenskapsgroep op Facebook.

Verskeie mammas wat Maandagaand op Jagersfontein geboorte geskenk het, is daarna deur die ambulans by ’n vulstasie op Koffiefontein afgelaai omdat die voertuig nie deur die oproermakers kon beweeg nie.

McDonaldstraat in Koffiefontein waarin die Hap & Tap-taverne geleë is, het veral deurgeloop in die onluste. Dié huis is oorkant die taverne wat Dinsdag afgebrand is. Foto: Verskaf

Ambulanse is ook nie in buurte soos Rooibult, Ditlake en Donkerhoek toegelaat om swanger vroue in nood op te laai nie.

Danie Muller, ’n motorwerktuigkundige wat ’n werkswinkel op die dorp het, het Woensdagaand net voor middernag ’n hoogswanger vrou by die polisiekantoor opgelaai en na Jagersfontein, ongeveer 67 km ver, geneem omdat die dorp se kliniek reeds ’n week lank gesluit is.

Die vrou het glo reeds kraampyne gehad en ’n erge infeksie opgedoen.

Hap & Tap, die gewilde taverne op Koffiefontein wat deur Chinese besit word, is Dinsdag met ’n petrolbom afgebrand. Ander sake-eienaars op die dorp word nou met dieselfde lot gedreig, sou hulle dit waag om hul deure te open.Foto: Verskaf

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Koffiefontein het sedert Maandag boonop geen water nie weens ’n stukkende waterpyp.

“Geen krag, geen brood, geen melk, geen petrol,” sê ’n ander inwoner wat anoniem wil bly.

Hap & Tap, die gewilde taverne op Koffiefontein wat deur Chinese besit word, is Dinsdag met ’n petrolbom afgebrand. Ander sakelui op die dorp word nou met dieselfde lot gedreig, sou hulle dit waag om hul deure te open. Foto: Verskaf

Hoewel die brug Woensdag ná drie dae se versperring weer oopgestel is, is alle ondernemings, insluitend die dorp se vulstasies, uit vrees vir skade steeds gesluit.

Dinsdag is Hap & Tap, ’n gewilde taverne in McDonaldstraat, afgebrand deurdat ’n petrolbom daarheen geslinger is.

Dian Badenhorst, eienaar van die Oppi Hoekie-slaghuis, kry nou dreigemente dat sy onderneming ook afgebrand sal word as hy sy deure oopmaak.

Hy het 45 mense wat vir hom werk wat nou sonder ’n inkomste by die huis sit.

Hy meen die inwoners is in die situasie omdat Thandiwe Reachable, die burgemeester, nie wil bedank nie. Badenhorst sê niks word vir die armes gedoen nie en dit is hoekom die mense in opstand is.

Die brug by Koffiefontein, wat dorpe en stede soos Petrusburg, Kimberley, Bloemfontein, Jacobsdal en Johannesburg verbind, was van Maandag tot Woensdag versper. Skade is ook aan die struktuur aangerig. Foto: Verskaf

Johnatan Barnes, DA-raadslid op die dorp, sê nog geen raadsvergadering is gehou om die situasie te bespreek nie.

“Ons doen egter ons bes om dit vreedsaam op provinsiale vlak te ontlont en druk op die ANC uit te oefen.”

“Goddank daar is nog nie lewensverliese nie.”

Die ANC-gedrewe gemeenskapsgroep Concerned Group Demands het ’n memorandum aan die landdros gerig oor hoe die polisie die betogers behandel het. Hulle wag nog op reaksie.

Die groep wil hê die burgemeester, asook vier ander wykraadslede, moet afgedank word.

Mynwerkers vergader glo vandeesweek oor of die plaaslike myn vroeg moet sluit weens die gebrek aan water en omdat werkers weens die onluste tuis bly. Teen druktyd kon dit nie met die Petra Diamonds-myn bevestig word nie.

Meer oor:  Koffiefontein  |  Swanger Vroue  |  Ambulanse  |  Geboorte  |  Onrus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.