Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swart stilis sê advertensie is g’n rassisties

Terwyl die land in rep en roer is oor die “rassistiese” sjampoe-advertensie op Clicks se webwerf is daar een haarkapper, wat al in ’n nasionale kompetisie geseëvier het, wat glo daar is niks verkeerd daarmee nie.

Tshediso Tshabalala van The Rock-haarsalon in Bethlehem het Dinsdag ’n klein opskudding veroorsaak toe hy op Facebook sê hy vind niks fout met die advertensie nie en dit is nie rassisties nie.

In die advertensie word ’n swart model se hare as “droog en beskadig” en “gekroes en dof” beskryf en ’n wit model se hare as “normaal” en “fyn en plat”. Tshabalala sê op Facebook al dié haarsoorte is “problematies”.

Hy is in 2016 in die Dark & Lovely Golden Scissors-kompetisie as die beste haarstilis in die land gekroon. Hy skryf verder: “As ’n haarstilis wil ek die advertensie verduidelik. Al die foto’s in die advertensie toon hare wat problematies is.”

Elana Afrika-Bredenkamp

Hy sê in die skoonheidsbedryf is dit ’n belediging as jy na hare verwys wat “fyn en plat” is en “normaal” dui op hare wat leweloos is.

“Geen wit vrou wil ‘fyn en plat’ hare hê nie.”

Hy sê die doel met die advertensie was om ’n produk te bemark wat al die soorte hare in die foto’s kan opkikker deur dit te bevogtig, veerkragtig te maak en glans daaraan te verleen. “Waar is die rassisme?”

Hy sê die taalgebruik in die advertensie is die probleem, want dit maak dit moeilik om die boodskap te verstaan.

Hy het sy inskrywing verwyder nadat hy daaroor gekritiseer is. Rapport kon hom nie Vrydag in die hande kry nie.

Amanda Carpede, ’n kampvegter vir natuurlike swart hare, sê die advertensie was op die algemene publiek gemik en nie op haarkappers nie.

Amanda Carpede

“Dit het ’n duidelike differensiasie tussen wit en swart hare gemaak en wit hare as goed en swart hare as sleg uitgebeeld. Die verwysing na swart mense se hare was negatief en afbrekend. Dit het my so ontstel dat ek in trane uitgebars het toe ek dit sien.”

Sinki Mlambo, aanbieder van My matriekafskeid op Via, sê daar is by haar geen twyfel die advertensie was rassisties nie.

“Dit het my emosioneel geraak. My hare is ’n verlenging van my wese en die negatiewe verwysing na swart hare het my identiteit beledig. Ek kan nie verstaan dat niemand wat by die advertensie betrokke was, kon insien dat dit aanstoot sou gee nie.”

Sy is uit die veld geslaan deur die “gevoellose” grappies daaroor wat op sosiale media aangestuur word en waarin die reaksie op die advertensie as fyngevoeligheid afgemaak word.

“Liewe wit mens,” sê Mlambo, “kry ’n swart maatjie en voer ’n gesprek met mekaar. Dan sal jy dalk verstaan waar jou swart maatjie vandaan kom.”

Die TV-en-radiopersoonlikheid Elana Afrika-Bredenkamp sê ook die advertensie was onbehoorlik. “As ek sou sê ek voel beledig, sou ek oordryf. Daar is wel baie mense wat seergemaak voel. Ek voel vir hulle.”

Sy sê hare is ’n emosionele kwessie vir baie mense omdat Suid-Afrikaners in die verlede daardeur geklassifiseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.