Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Swartmamba maak hom tuis in bakkie

Binne die paar minute wat ’n man sy bakkie verlaat het om iets in sy huis te gaan haal, het ’n “nuuskierige” swartmamba hom in die voertuig tuisgemaak.

Die slang van 2,5 m het hom behoorlik in die Chevrolet-bakkie in Reservoir Hills, Durban ingewurm.

Jason Arnold met die 2,5 m swartmamba wat hy uit ’n bakkie bevry het.

Jason Arnold, ’n slangvanger van Sunningdale, sê die eienaar van die bakkie was Vrydag net ’n paar oomblikke weg toe hy iets in die huis gaan haal het. Hy het later op kringtelevisiemateriaal gesien hoe die slang juis op daardie tydstip in sy bakkie “geklim” het.

“Die swartmamba het waarskynlik besluit om by die bakkie ondersoek in te stel. Hulle is nogal nuuskierige diere en hy het moontlik kos, water of skuilplek gaan soek,” sê Arnold.

Die eienaar het sy skootrekenaar agter die bakkie se sitplek gebêre voordat hy die slang se kop gesien het. Hy het dadelik die deur toegeslaan.

“Hy en sy kollega het hulself met stokke bewapen en die deur oopgemaak, maar die slang het verdwyn. Toe hy my bel en die slang as donkergrys beskryf en sê hy is in Reservoir Hills, het ek onmiddellik geweet dis ’n swartmamba.”

Volgens Arnold het dit lank geduur om die slang op te spoor, aangesien die voertuig vol voorwerpe was.

“Die eienaar doen baie herstelwerk en installasies en ek moes omtrent al die voorwerpe waarmee hy werk, uithaal. Dit was ’n delikate en gevaarlike prosedure om my hand keer op keer onder die sitplekke te moet insteek.”

Arnold het die slang uiteindelik agter die instrumentepaneel gekry en verwyder.

Hy hou die slang nou by hom totdat hy dit op ’n veilige plek kan vrylaat.

“Die weer is nou nogal sleg, ek wil nie die slang in die koue, reënerige toestande vrylaat nie.”

Hulle is nie koelbloedige moordenaars wat mense net wil aanval nie, hulle is skaam en kalm diere.
Jason Arnold

Arnold sê mense moet eerder professionele hulp inroep wanneer hulle op ’n slang afkom.

“As jy op ’n veilige manier ’n foto van die slang kan neem en vir ’n kenner kan stuur, kan ons raad gee. As hy heeltemal skadeloos is, kan jy hom uitlos of uit die huis verwyder in ’n emmer of ’n boks.

“As dit ’n gevaarlike slang is, moet ’n kenner die slang kom verwyder. Daar is wel ’n koste verbonde hieraan, ons is permanent beskikbaar hiervoor en sou nie kon wees as ons nie ’n inkomste daaruit kon verdien nie.”

Arnold verduidelik swartmambas word aan hulle lengte en grys kleur uitgeken. Die slang se bek is ook pikswart binne. Hulle gif is neurotoksies en tas die senuweestelsel aan. Indien mense nie vinnig genoeg mediese hulp ontvang nie, kan hulle ophou asemhaal.

“Jy kan binne 40 minute of ses ure na die byt doodgaan. Dit hang af van hoe jou liggaam reageer, ’n kleiner persoon sal vinniger simptome toon. Die gemiddelde tyd voordat ’n volwassene van die byt sal sterf, is twee ure. Moenie rondsit en wag en om te kyk of simptome intree nie. Kry onmiddellik hulp.”

Arnold sê hy is waarskynlik al “honderde” kere deur slange gebyt, maar slegs drie daarvan was deur gevaarlike slange.

“Dit was egter ‘droë byte’ waar die slang nie gif deur die byt inspuit nie. Hulle het volkome beheer oor of en hoeveel gif hulle oordra.”

Hy voeg by dat slange dikwels misverstaan word en dat hulle slegs sal byt as hulle onkant gevang word of bedreig voel.

“Hulle is ongelooflik interessante diere. As mense hulle net ’n klein bietjie verstaan soos wat ek doen, sal hulle nie bang wees nie.

“Hulle wil net uitgelos word en niemand seermaak nie. Hulle is nie koelbloedige moordenaars wat mense net wil aanval nie, hulle is skaam en kalm diere.”

Kyk hier na ’n paar foto’s van die mamba: 

Meer oor:  Durban  |  Bakkie  |  Slangvanger  |  Swartmamba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.