Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swartmamba ‘ryloop’ na Midrand

Die swartmamba wat in ’n tuin aan die buitewyke van Johannesburg gevang is, het heel moontlik “geryloop” van Limpopo.

’n Tuinier het die slang van 2,78 m lank gekry waar hy in ’n elektriese heining naby die American International School of Johannesburg in Midrand vasgesit het.

Dawie van Eeden het die 2,78 m-swartmamba uit ’n elektriese heining gered. Foto: Verskaf
Die ryloper van Limpopo het in ’n elektriese heining vasgesit.Foto: Verskaf
Die swartmamba het waarskynlik ’n saamrygeleentheid gekry op ’n vragmotor wat van Limpopo gery het.Foto: Verskaf

Dawie van Eeden, ’n slangvanger van African Reptiles and Venom wat die slang Dinsdag gaan vang het, sê die slang het waarskynlik ’n saamrygeleentheid gekry op ’n vragmotor wat van Limpopo gery het.

Van Eeden sê daar is aanvanklik vir hom gesê dit is ’n rinkhals, maar met sy aankoms het hy gesien dis ’n swartmamba.

Volgens Johan Marais, ’n slangkenner, is swartmambas medium- tot donkergrys van kleur en is hul bekke pikswart binne. Die gemiddelde mamba is 2,2 m tot 2,8 m lank, maar kan tot 3,8 m lank word.

“Jy sal nie maklik so ’n lang, grys, dun slang met ’n ander een kan verwar nie.”

Marais sê swartmambas is nie aggressief nie, maar baie senuweeagtige slange en vermy mense waar moontlik.

“As jy een dalk vaskeer, gaan hy jou byt. En hy byt nie net een keer, hy byt sommer twee of drie keer.”

Die swartmamba se gif is neurotoksies en tas die senuweestelsel aan. Indien mense nie vinnig genoeg mediese hulp ontvang nie, kan hulle ophou asemhaal.

Marais sê simptome tree binne minute ná ’n swartmamba se byt in.

“Jou lippe gaan gevoelloos raak en jy gaan naar wees. “Daar gaan ook baie speeksel uit jou mond kom en jy gaan hewig begin sweet. Jy sal sukkel om jou oë oop te hou en moeilik asemhaal.

“Die beste is om onmiddellik by die naaste hospitaal met ’n trauma-eenheid uit te kom, waar hulle teengif kan toedien en jou aan ’n ventilator kan koppel.”

Volgens Marais is swartmambas en Kaapse kobras verantwoordelik vir die meeste sterftes weens slangbyte.

Van Eeden sê mense moet nooit self die slang probeer vang of doodmaak nie.

“Hou ’n oog op die slang en probeer hom identifiseer, maar bel eerder jou naaste slangvanger,” sê hy.

“Hou ’n veilige afstand. As jy vyf meter wegbly van enige slang af, sal jy veilig wees,” sê Marais.

Volgens hom kom 80% van slangbyte in Suid-Afrika van Januarie tot April voor.

“Slange in Suid-Afrika is veral gedurende April en Mei nogal aktief, omdat hulle reserwes opbou en rondbeweeg soos wat hulle skuilplek vir die winter soek. Ons slange hiberneer nie, want dis nie so koud nie. Hulle is net baie minder aktief in die winter.”

Die ryloper van Limpopo het wonde aan sy rug gehad en ’n veearts het hom behandel. Hy word tans by African Reptiles and Venom versorg. Die “manjifieke skepsel” sal omtrent ’n maand neem om ten volle te herstel, sê Van Eeden.

Meer oor:  Dawie Van Eeden  |  Midrand  |  Johannesburg  |  Swartmamba  |  Geryloop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.