Stuart (Stu) Lithgow (67), een van die mans wat dood is nadat ’n sweeftuig Maandag in Plettenbergbaai neergestort het, was ’n afgetrede SAL-vlieënier met 36 jaar diens.

Stu Lithgow Foto: Facebook/South African Air Force Museum Photography Club Public Group
Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.
Volgens hom het die ongeluk Maandag omstreeks 18:00 naby die Lughawepad in Plettenbergbaai gebeur.
Die vlieënier, sowel as die passasier, het ernstige beserings opgedoen. “Die passasier is op die toneel dood en die vlieënier is na ’n hospitaal in Knysna geneem waar hy ook later dood is.”
Volgens Spies sal die Burgerlugvaartowerheid (BLO) die ongeluk ondersoek.
Die polisie het nog nie die oorledenes se name bekend gemaak nie, maar Lithgow is Dinsdag op Facebook geïdentifiseer nadat huldeblyke vir hom begin instroom het. Een van die huldeblyke is van die Flying Lions, ’n lugtoertjiespan waarvan hy lid was. Volgens die inskrywing is Lithgow Dinsdagoggend dood ná die vliegongeluk van Maandagaand.
Anton van Stormbroek, pastoor van die Plett Evangelical Fellowship, sê by navraag Lithgow en sy vrou, Kathy, is lidmate van sy kerk. “Wat gebeur het, is baie hartseer.” Volgens hom weet hy nie saam met wie Lithgow in die sweeftuig was nie, of wat tot die ongeluk gelei het nie.
Pappie Maja, woordvoerder van die BLO, sê hul ondersoekers is na die ongelukstoneel gestuur.
Luidens Lithgow se Curriculum Vitae het hy hom in 1970 by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit en was hy ses jaar lank ’n instrukteur wat met Harvard-vliegtuie gemoeid was. Hy het hom in 1976 by die SAL as vlieënier aangesluit. Hy het in 2017 afgetree en steeds gevlieg, onder meer met sweeftuie in Plettenbergbaai. Die egpaar het drie kinders.

Die ongelukstoneel Maandag waar die sweeftuig naby die Plettenbergbaai-lughawe neergestort het. Foto: Facebook/Bitou-munisipaliteit