Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sy erf als ná net 6 maande saam

Die weduwee van ’n Gautengse prokureur wat op sy wittebrood in Parys, Frankryk, dood is, voer ’n bitter stryd met haar stiefkinders oor sy boedel.

Johann en Leonie Grové op hul troue in November 2018. Foto: Facebook

Johann Grové van Centurion is op 14 Junie aan ’n hartaanval dood terwyl hy op wittebrood was met sy bruid, Leonie. Hy en dié regsekretaresse van ’n prokureursfirma in Pretoria het net voor die wittebrood hul wit troue gehad waarvan sy nog altyd gedroom het. Leonie was Johann se tweede vrou.

Johann se kinders, Annegret Carstens (28) en JW Grové (27), neem nou hul stiefma hof toe omdat hulle haar as eksekuteur van hul pa se boedel wil laat verwyder. Hulle sê in hofstukke hul pa het gesê hulle is sy enigste erfgename. Hulle glo daar is ’n testament wat dit uitspel.

“Ons is ons pa se kinders en sy (Leonie) was net ses maande met my pa getroud,” lui Annegret se verklaring voor die hooggeregshof in Pretoria.

Johann en Leonie is in November verlede jaar wettig getroud, maar het hul deftige seremonie met sowat 140 gaste eers op 25 Mei gehou.

‘Ek het absoluut niks om weg te steek nie.’

Leonie sê in haar hofstukke sy kan nie glo sy word nou as die “gierige weduwee” uitgemaak nie. Hulle was lief vir mekaar en die dood het hulle hopeloos te vroeg geskei. Op die tweede laaste dag van hul wittebrood waar hulle in ’n Airbnb-blyplek tuisgegaan het, het haar man ’n massiewe hartaanval gekry. “Ek het verskriklik gesukkel om paramedici na ons kamer te ontbied, terwyl ek CPR toegepas het,” lui haar verklaring.

Leonie sê sy was bekommerd dat “alles te duur is” vir die wittebrood, maar Johann het haar telkens verseker dat hy als onder beheer het.

“Ongelukkig het ek uit my man se algemene voorkoms gesien hy was onder baie spanning. Hy het my verseker dis net werkverwant. Die stres het selfs tydens ons wittebrood aangegaan, waar Johann die meeste van die tyd konstant op sy foon was, deur boodskappe na sy kliënte en kantoor te stuur.”

Leonie het sy oorskot na Suid-Afrika gebring en hy is op 10 Julie begrawe. Dít, sê die stiefkinders, is waar hulle begin lont ruik het. Annegret sê Leonie het op die roudiens, ure nadat sy in Suid-Afrika aangekom het, dadelik vrae aan Johann se broer, ook ’n prokureur, begin vra oor “wat sy sal erf as my pa inte­staat gesterf het”.

Annegret sê toe Leonie op 17 Junie van Parys teruggekeer het, was sy “verras” om te hoor hoe haar stiefma glo gesê het haar pa het nie ’n testament nie.

“Ek was verbaas, want my pa was ’n prokureur en het die gevolge geken waar iemand sonder ’n testament sterf.”

’n Intestate erflater wat ’n gade en kinders het, se boedel word gewoonlik gelykop tussen die gade en kinders verdeel.

Annegret sê sy het haar pa “uitdruklik” voor en ná die troue gevra of sy geldsake in orde was. “Hy het my ingelig dat ek nie bekommerd moet wees nie. As hy doodgaan, sal al die bates net tussen my en JW verdeel word.”

Annegret sê hul stiefma het op 1 September aan hulle gesê sy het haarself as eksekuteur aangestel. Maar hulle dra geen kennis van so iets nie, sê die kinders. Hulle meen ook Leonie “kan nie vertrou word” as eksekuteur nie.

Leonie kap terug in hofstukke: “Ek het niks, absoluut niks, om weg te steek wat my man se boedel betref nie.” Sy sê al die bates is “uit in die oopte”, behalwe dié wat in derde partye se besit is.

Sy het besluit om ’n onafhanklike en ervare prokureur aan te stel om haar te help met die eksekuteurskap.

Leonie sê sy en Johann het mekaar tien jaar gelede ontmoet. Hul verhouding het in Desember 2014 begin. Hulle was ’n paar keer van mekaar vervreem, maar ná hul laaste skeiding wou hulle enduit tot mekaar verbind bly en het besluit om te trou.

Leonie sê sy was verpletter deur sy dood. “Om my as ’n soort gierige weduwee uit te beeld, wat net agter die geld aan is, is uiters roekeloos en ongevoelig.”

Sy sê dis onwaar dat sy by die roudiens enige woord gerep het oor enige erflating.

Meer oor:  Erflating  |  Boedel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.