Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sy tokkel klawers op ‘Noot vir noot’

Kykers van SABC2 se gewilde musiekprogram Noot vir noot gaan nooit weer hul geliefde orkes, Die Musiekfabriek, op televisie sien nie.

Rochelle de Bruyn, ook bekend as DJ Shelly, vervang Die Musiekfabriek in die nuwe reeks van Noot vir noot. Sy is ’n platejoggie en ook bedrewe agter die klawers. Foto: Marc Berman Photography

Die musikante is almal nog deel van die span, maar kykers gaan van nou af net die vroulike platejoggie bekend as DJ Shelly en die nuwe aanbieder, Emo Adams, sien. Dis alles deel van Noot vir noot se splinternuwe formaat wat in Mei opgeneem gaan word.

Johan Stemmet (67), wat vir 43 seisoene die aanbieder van die program was, sê hy bestuur nog steeds die hele Noot vir noot.

“Ek is die regisseur én die vervaardiger. Dit is nog steeds my program, maar jy gaan my net nie meer sien nie, want ek word te oud,” sê Stemmet, wat ook die stigter van die program is.

Dis regtig 'n groot eer om deel te wees van Noot vir noot.

Volgens hom gaan al sy “elemente” waarvan die kykers die meeste hou, steeds deel wees van die program. “Ons speel nog steeds presies dieselfde speletjies as in die ou dae,” sê hy. “Met nuwe gesiggies.”

DJ Shelly, wat onder haar regte naam, Rochelle de Bruyn (23), agter Noot vir noot se klawers gaan inskuif, sê sy het al klavier gespeel nog voor sy kon loop.

Johan Stemmet tree af as aanbieder, maar bestuur steeds die hele program.

“Ek was nog baie klein toe ek my ouma se klavier geërf het,” sê sy. “Dit was my ma se droom.”

Sy het die klawers blitsig bemeester en speel deesdae ook klavier by haar kerk, Die Bron in Tygervallei, Kaapstad.

“Ek is heeltemal verras oor my nuwe werk,” sê De Bruyn, wat einde Maart gehoor het sy word deel van Noot vir noot. “Vir my ouderdom is dit ’n groot sprong, waarvoor ek baie dankbaar is,” sê sy. “Ons begin volgende week in Kaapstad oefen, ek en Emo, sodat ons so gou as moontlik gereed kan wees vir die nuwe reeks se opnames.”

Emo Adams, die nuwe aanbieder van Noot vir noot. Foto: Peter Abrahams

De Bruyn sê sy is opgewonde om deel te wees van die “Noot vir noot-familie” en dat dit eintlik nog glad nie by haar ingesink het nie.

Hoewel kykers slegs vir De Bruyn en Adams op die kassie gaan sien, sê Stemmet sy hele Musiekfabriek is nog deel van die produksie.

“Veral ons musikant Jaconell Mouton neem nog baie musiek op, veral vir die leidrade wat belangrik is vir die speletjies,” sê Stemmet. “Toe ek die aanbieder was, was die Musiekfabriek slegs op my agtergrond en ek het skaars met hulle gepraat. Daar was slegs kommunikasie met die deelnemers en die musikante het omtrent nooit ’n woord gesê nie. Die nuwe formaat gaan meer interaksie tussen die aanbieder en die musiekmaker hê as in my dae.”

Die Musiekfabriek destyds.

Stemmet sê met ’n platejoggie in die prentjie gaan regstreekse musiek glad nie afgeskeep word nie. “Gaskunstenaars kom speel nog steeds elke week met hul eie instrumente. Jo Black het al klaar aangebied om sy hele orkes saam te bring wanneer hy binnekort op ons program kom sing.”

Om Noot vir noot aan te bied, sê Adams, is sy droom wat waar geword het. “Toe ek klein was, het my pa my al daardie ou Springbok-plate laat luister,” sê hy. “Ek het alles uit my kop geken. Nou weet ek hoekom is dit belangrik! Dit is regtig ’n groot eer om deel te wees van Noot vir noot.”

Hy voel onder geen druk om Stemmet se skoene vol te staan nie.

“Ek weet nie eens watter size is Johan se skoene nie,” skerts Adams. “Daarom is ek gereed om iets heeltemal nuut as aanbieder te doen.”

Meer oor:  Johan Stemmet  |  Rochelle De Bruyn  |  Emo Adams  |  Musiekfabriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.