Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sy was almal in SA se warm ma’
Shaleen Surtie-Richards as Nenna (Ester Willemse) in Egoli: Plek van goud.

“Ag, ek het drie calls op nog ’n movie, maar daarna is dit stil, Bazzie . . . doodstil! En vir jou? Ek worrie, jong.”

So het die aktrise Shaleen Surtie­-Richards in Desember aan die akteur Basil Appollis gesê.

Surtie-Richards, wat Maandag dood in ’n gastehuis in Kaapstad gevind is, het dit nie breed gehad nie, maar terwyl sy self haar sente moes omdraai, het sy graag gegee.

Appollis onthou ’n voorval in ’n supermark in 2013 toe Surtie-Richards in Kaapstad was om in ’n produksie van Scrooge op te tree.

“Ons staan in ’n tou in ’n supermark en die vrou voor ons kan nie vir al die kos in haar mandjie betaal nie. Shaleen haal haar kredietkaart uit en sê: ‘Dis oukei, sit alles in. Ek sal betaal.’

“Dis hoe sy was. Agterna sê sy saggies: ‘Ek kan dit nie eintlik afford nie, maar ’n mens kan mos sien dis haar familie se kos.’ ”

Surtie-Richards as Ruby in Egoli: Plek van goud.

Sy wou ook graag weer die hoofrol in ’n fliek vertolk – ’n wens wat verwesenlik is, maar sy is dood voordat die verfilming voltooi is.

Dié fliek, Skaapboer, se verfilming sou vandeesmaand hervat word nadat dit verlede jaar weens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie gestaak is.

Appollis onthou hoe sy dikwels aan hom gesê het: “Ai, Bazzie, hoeveel servants moet ek in my leeftyd nog speel? Maar dis werk, jong . . . ek sal dit maar moet vat!”

40 jaar gelede was daar min rolle beskikbaar.

“Shaleen het die verskil gemaak as bruin aktrise op TV.”

Surtie-Richards het weer werk gehad nadat dit in ’n stadium opgedroog het. Sy het Donderdag haar laaste tonele in die kyk­NET-telenovelle Arendsvlei opgeneem.

Sy het nooit haar menswees vergeet nie, sê Appollis.

“Ek dink haar doel was ook om die Noord-Kaap, haar ‘komvandaan’, op die map te sit. En sy was generous to a fault.”

Appollis en Surtie-Richards het byna 40 jaar lank saamgewerk en was bevriend “voor die fame en glory. Dit is moeilik om van haar in die verlede tyd te praat”.

Appollis se beste herinneringe aan haar is hul skooltoere in die 1980’s – voorgeskrewe boeke vir matrieks, laerskoolprogramme vir st. 4 en st. 5 (nou gr. 6 en gr. 7) en ’n gemeenskapsprogram saans.

“Die toere kon tot drie of vier maande lank duur. Ek, Royston Stoffels, June van Merch, Ivan Abrahams. Shaleen is ‘geleen’ vir die toere van die departement van kleurlingsake, waar sy ’n uitstekende kindertuinonderwyseres was.

“Sy was lief daarvoor om aan ons stories oor haar geliefde kleintjies te vertel.”

Appollis en Surtie-Richards het in Desember saam aan Quanita­ Adams se rolprent Swirl gewerk.

Shaun Mynhardt van die Legendesmuseum en Surtie-Richards met die kaartjie wat sy in 1997 vir hom geteken het.

En Surtie-Richards het die mense op stel laat skater.

“Ek sal die gelag onthou, maar moet erken daar was iets in haar gees wat moeg was.

“So tussen die gelag het ons stilletjies gewonder watter werk is volgende vir ons. Wat is besig om met ons bedryf te gebeur?”

Surtie-Richards het in die vroeë 1990’s in die volk se hart gekruip as Nenna in die destydse M-Net-sepie Egoli: Plek van goud.

Franz Marx, skepper van Egoli, het dié rol vir haar geskryf.

“Vir my was Shaleen ’n enorme aantreklike, gemoedelike, vrolike aartsmoederlike akteur. En sy het ’n enorme speltegniek gehad wat sy kon gebruik (en soms misbruik het!) vir enige rol wat sy moes of wou vertolk. Vir ons in Suid-Afrika was sy altyd­ die warm ma. Shaleen self sou liewer allerhande glansrolle wou speel.”

Marx het nóg ’n rol vir haar in Egoli geskep – Ruby, Nenna se “deftige en bose” tweelingsuster.

Surtie-Richards is verlede jaar in die Suid-Afrikaanse Legendes-museum ingehuldig.

Shaun Mynhardt, stigter, het Surtie-Richards in 1997 ontmoet by die Shoprite Park in Parow, Kaapstad, waar sy vir hom ’n kaartjie geteken het – wat hy steeds besit.

“Sedert ek in Gauteng woon, het ek en Shaleen mekaar meer gesien by geleenthede en het ons vriende geword. Ons het in 2019 ’n borsbeeld van haar laat maak en sy is toe op 26 Januarie verlede jaar (in die museum) ingehuldig.

“Ten tyde van ons kuiers by haar huis en by myne was Shaleen altyd borrelend met daardie gul lag van haar. Ons kon ure lank gesels en sy het die stoutste WhatsApp-grappies gestuur.”

Mynhardt het Saterdag nog met haar gesels.

“Ek sal Shaleen onthou as ’n vriendelike, positiewe mens en as een van ons land se grootste legendes: Suid-Afrika se Nenna.”

  • Surtie-Richards word Sondag in Kaapstad ter ruste gelê. Die gedenkdiens word om 14:30 regstreeks gestroom en op eNCA (DStv-kanaal 403) uitgesaai.
Meer oor:  Herinnering  |  Aktrise  |  Dood  |  Shaleen Surtie­-Richards  |  Omgee  |  Moederlik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.