Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sy was my alles,’ sê ma ná matriekmeisie se dood

“Sy was my enigste kind. Sy was my alles,” sê Liza Venter van Polokwane nadat haar 18-jarige dogter, Kayla Smith, Saterdag in die Netcare Pholoso-hospitaal in die stad gesterf het.

Haar dood volg sowat ’n week ná ’n grusame motorongeluk op Vrydag 23 Julie op die R71, sowat 5 km buite Haenertsburg. Sy het veelvuldige beserings opgedoen en was daarna aan ’n ventilator in die waakeenheid gekoppel.

Zaskia da Silva (29) en haar halfsuster, Kayla Smith (18) van Polokwane, is albei ná ‘n ongeluk op Vrydag 23 Julie buite Haenertsburg dood. Foto: Verskaf

Haar halfsuster, Zaskia da Silva (29), en ’n goeie vriend, Charles van der Walt (52), ’n finansiële makelaar van Polokwane, het in die motorongeluk gesterf.

“Ek sal altyd onthou hoe sy voor elke slapenstyd gesê het ‘I love you, Mom’,” het Venter oor Kayla, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Pietersburg (PHS) in Polokwane, gesê.

Kayla en Da Silva het dieselfde pa, Robin Smith. Hy was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

“Kayla, jy het nie die stryd verloor nie. Jy het hom voltooi. Nou dans jy saam met Jesus op die ritme van sy hartklop. Ons sal jou mis totdat ons mekaar weer sien,” lui ’n boodskap van die skool.

Kayla Smith (18), ’n gr.12-leerling aan die Hoërskool Pietersburg in Polokwane, is Saterdag dood nadat sy net meer as ’n week tevore ernstig in ’n motorongeluk beseer is. Foto: Verskaf

Kayla en Da Silva was saam met Van der Walt in sy silwer Ford Mustang op pad terug van Haenertsburg na Polokwane toe die ongeluk gebeur het.

Van der Walt het vermoedelik beheer oor die motor verloor. Dit het in ’n graswal vasgery en etlike kere gerol voordat dit aan die onderpunt van die wal teen ’n boom gebots het. Die wrak het kort daarna aan die brand geslaan.

Van der Walt en Da Silva is op die toneel dood.

Venter sê Kayla het alles wat sy gedoen het voluit aangepak. Sy was ’n groot natuurliefhebber en het daarvan gehou om “in die bos” te wees.

“Sy kon enige vertrek ophelder met haar glimlag en kenmerkende kuiltjies.”

Venter sê Kayla kon uitbundig lag vir enigiets, selfs al was dit nie snaaks nie.

Sy het ’n passie vir jong kinders gehad en het beplan om volgende jaar onderwys te studeer.

Kayla Smith (18) van Polokwane is Saterdag dood nadat sy net meer as ’n week tevore ernstig beseer is in ’n grusame ongeluk buite Haenertsburg. Foto: Verskaf

Kayla is dood ’n dag nadat Da Silva begrawe is. Die twee susters was onafskeidbaar en het alles saamgedoen. Da Silva se man, José, is verlede jaar op ’n hoewe buite die stad dood.

Hy het vermoedelik sy eie lewe geneem. Familielede sal nou die egpaar se twee jong seuns, van onderskeidelik agt maande en drie jaar oud, grootmaak.

’n Roudiens vir Kayla word Vrydag om 13:00 uit die NG kerk Noord in Polokwane gehou. Weens die Covid-19-beperkings sal slegs 50 mense in die kerk toegelaat word. Die diens kan ook op YouTube gekyk word.

Meer oor:  Polokwane  |  Dood  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.