Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Sy was my gemmerkoek en ek haar chocolate chip'

Suna Venter sal altyd onthou word vir hoe dapper sy as joernalis was.

So het dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, wat al verskeie kere saam met Venter Libië en Gasa was wanneer sy oor die oorloë en swaarkry in dié lande berig het, Dinsdagmiddag op Venter se roudiens in die NG kerk in Fairland, Johannesburg, gesê.

“Suna was een van die wonderlikste mense. Sy was die stem vir hulle wat nie kon praat nie. Sy het die stories vertel van mense wat verdruk is. Sy het ook nie omgegee om haar lyf, haar siel en haar hele wese op die spel te plaas om sulke mense te help nie,” sê Sooliman.

Hy kon al op hul eerste besoek aan Gasa in 2009, toe Venter 24 was, agterkom sy is ’n vuurvreterjoernalis.

Suna Venter. Foto: Deon Raath

“Sy was dapper, vasbeslote en het onstuitbare integriteit gehad. Om so ’n joernalis te vind, gaan baie, baie moeilik wees. Gift of the Givers sal altyd lief wees vir haar,” sê hy.

Venter (32) se lyk is Donderdagoggend in haar woonstel in Fairland aangetref.

Die harttoestand streskardiomiopatie, of “gebrokehart-sindroom”, is onlangs by haar gediagnoseer. Dit word glo veroorsaak deur trauma en lang tydperke van onnatuurlike stres.

Venter, een van die agt SAUK-joernaliste wat afgedank is toe hulle vasgeskop het teen die redaksionele beleid van Hlaudi Motsoeneng, destydse bedryfshoof, is die afgelope jaar in die gesig geskiet, ontvoer en telkens met die dood gedreig.

Vincent Mofokeng, wat langs Venter in RSG se kantoor gesit het, sê dit is die slegste gevoel om soggens op te daag en nie Venter se groet gehoor nie.

“Suna het my opgelei toe ek die groot maatskappy betree het. Sy het my altyd uitgedaag en my gedruk om ander angles vir stories te soek. Sy was my gemmerkoek en ek haar chocolate chip,” sê hy.

My belofte aan haar is dat ek dapperder sal wees in my verslaggewing.
Vincent Mofokeng

Omdat hulle langs mekaar gesit het, sê Mofokeng hulle was gereeld in woordewisselings betrokke.

“Daar was altyd ’n debat wat tussen ons plaasgevind het. Ons het ’n snaakse band gehad. Sy sou my altyd aanmoedig om ‘my sê te sê’.

“Ons het baie spesiale tye en ervarings gedeel. Ek gaan haar baie mis. My belofte aan haar is dat ek dapperder sal wees in my verslaggewing,” sê hy.

Heindrich Wyngaard, ’n aanbieder van die oggendprogram Monitor, waarvoor Venter gereeld bydraes gelewer het, sê hy het uit Venter se passie en toewyding geleer dat ’n mens ’n impak en ’n verskil in die samelewing kan maak.

“Die sleutelwoord op die begrafnisdiens is dat Suna ’n impak gemaak het. Dit is dan hoekom ons joernaliste word, om ’n impak te maak. Suna was ’n old school joernalis wat aanhou grawe het totdat sy die storie losslaan,” sê Wyngaard.

Kapt. Kay Makhubela, Gautengse polisiewoordvoerder, het Vrydag bevestig dat die polisie ’n geregtelike ondersoek na Venter se dood geopen het.

Dr. Philip Venter, Suna se pa, wou ná die begrafnis nie meer besonderhede van haar dood verskaf nie.

“Suna was ’n besonderse kind. So entoesiastes, vol lewenslus en so opgewonde om die lewe ten goede te verander,” sê hy.

Meer oor:  Suna Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.