Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sy’t dan gesê sy is single’

Die gewese Blou Bul wat glo ’n tandarts se kakebeen afgeslaan het buite ’n Pretoriase kuierplek, sê nou die tandarts het hom óók geslaan.

Die oud-Bul Hendré Stassen en sy meisie, Lizell Visser, is volgens hul regsverteenwoordiger steeds saam en al jare ’n paartjie. Foto: Facebook

Hendré Stassen (21) het by monde van sy prokureur, Riaan Louw, bevestig hy is terug in Frankryk om rugby te speel, maar beklemtoon hy “hardloop nie weg nie” en sal homself aanmeld indien die polisieondersoek so ver vorder.

Dr. Markus Botes (26) het ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen Stassen by die polisie ingedien.

Dit is die tweede keer binne twee jaar wat Stassen direk of indirek betrokke is by ’n bakleiery by dieselfde kuierkompleks.

Die aangerande tandarts, Markus Botes, en die oud-Bul Hendré Stassen se meisie, Lizell Visser, op die aand van die beweerde aanranding.

Maar Louw sê die volle waarheid van wat verlede naweek gebeur het, is nog nie vertel nie.

“Markus Botes het ook aan my kliënt geslaan, dit was nie net ’n eensydige affêre nie,” het Louw aan Rapport gesê.

Vir Botes, wat 1,84 m lank is en 80 kg weeg, is dít nuus. “Hy is twee meter lank en weeg 122 kg! En ek het nog nooit iemand in my lewe geslaan nie.”

Hendré Stassen en Lizell Visser.

Dié weergawe het hom uit die veld geslaan, maar Louw se bevestiging dat die vrou oor wie die onderonsie gegaan het, Lizell Visser (21), nou al ses jaar in ’n verhouding met Stassen is en agter haar rugbyspeler-kêrel staan, het Botes se dunk van haar verpletter.

“Sy het dan gesê sy is single.”

Louw het volgehou: “Hulle het daardie aand ’n rusie gehad, maar alles is uitgesorteer en Lizell staan bankvas agter Hendré.”

Daarna het Botes 24 Whats­App-boodskappe tussen hom en Visser aan Rapport verskaf wat daarop dui dat die driehoek inderdaad meer gekompliseerd is.

Hendré Stassen, ’n oudslot van die Blou Bulle wat deesdae op flank vir Stade Français in Parys, Frankryk, uitdraf. Foto: Getty Images

Visser het by navraag alle navrae na Louw verwys. Hy het laat weet Visser beskou die aangeleentheid as privaat.

Verlede Sondagoggend, direk ná die slanery buite die Action Bar in Lynnwood, het Visser in haar boodskappe vir Botes om verskoning gevra vir Stassen se gedrag. Sy het na haar kêrel as ’n “kind” verwys wat nie volwasse kan optree nie.

Dit blyk ook uit die boodskappe dat sy nie vir Stassen by die kuierplek verwag het nie. Luidens dié boodskappe het sy gedink Stassen gaan sy tannie se 50ste verjaardag in Kempton Park bywoon.

Sy pleit dat Botes haar moet vergewe en sê sy het ’n “flipen lekker” (sic) aand saam met hom gehad. Sy wou luidens dié boodskappe nog die afgelope week by Botes gaan inloer het om jammer te sê, maar dít het toe nie gebeur nie.

Markus Botes nadat sy kakebeen die afgelope Dinsdag in ’n operasie geheg is. Foto: Netwerk24

Botes sê hy ken vir Visser al sedert 2012, maar hulle was nie vriende of enigsins romanties verbind nie.

Hy sê hy het ook nie Saterdag beplan om saam met Visser te kuier nie.

“Ek het van 08:00 tot 13:00 by ons praktyk ’n Botox-kliniek aangebied. My vriende het my net ná 13:00 kom oplaai. Van daar is ons (Capital Craft-) bierfees toe.”

Van die bierfees af is Botes en sy vriende na ’n tweede kuierplek toe in Lynnwood.

“Ons het daar vir Lizell ontmoet en is van daar af Action Bar toe waar ons gedans en gekuier het tot die moeilikheid net voor 04:00 gebeur het,” sê Botes.

’n Kringtelevisiebeeld van die onderonsie met Louis Pienaar in November 2017. Hendré Stassen het hom glo gestamp waarna ’n spanmaat, Dylan van der Walt, glo vir Pienaar aangerand het.

Hy sê terwyl hy, Visser en sy vriende vir ’n Uber gewag het om huis toe te gaan, het Stassen opgedaag.

“Hy en Lizell het eenkant ’n rusie gehad, maar ek kon nie hoor wat hulle sê nie. Die volgende oomblik het hy my naam geroep en gevra of ek haar gesoen het. En toe slaan hy my.”

Op die vraag of hy wel vir Lizell Visser gesoen het, lag hy verleë.

“Daar was ’n soen of twee gewees, maar dit was nooit ’n vry nie. Die dans was half beter as die soen gewees. Sy het steeds gesê sy is single.”

Hy het bygevoeg:

“Ek probeer nou ’n beter manier kry om die soen te verduidelik. Dit was ’n solid liplocker, maar dit tel nie as vry nie.”

Wat hom die meeste van Visser se ommeswaai verbaas, is dat sy saam met hom en sy vriende in die Uber ingeklim het.

“Sy het op my skoot gesit, maar toe ons by die parkeerarea uitry, het sy gevra ons moes stop. Sy het gesê sy kan nie haar nefie (wat nie kon inpas in die Uber nie) alleen daar agterlaat nie.”

‘Rugbymannetjies’ baklei tevore

Die bakleiery het ou wonde oopgekrap vir Louis Pienaar, ’n IT-spesialis van Pretoria, wat einde 2017 in ’n koma in geslaan is by dieselfde kuierkompleks.

Pienaar beweer Hendré Stassen was een van die mense wat aan hom gestamp het voordat hy deur iemand anders met ’n steelhou platgeslaan is.

Stassen se destydse Blou Bul-spanmaat Dylan van der Walt is aangekla van Pienaar se aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die saak is by herhaling uitgestel in die Hatfield-gemeenskapshof, maar die hof het die saak geskrap toe net een van die vier getuies by die hof opgedaag het. Rapport het destyds berig Stassen was een van die getuies wat nie by die hof opgedaag het nie.

Pienaar het die afgelope week aan Rapport gesê hy sukkel steeds met sy korttermyngeheue. Hy het ernstige breinbloeding opgedoen. “Alles voel nog nie reg nie, maar die dokters het destyds gesê ons sal eers ná twee jaar weet of daar blywende skade is.”

Pienaar sê hy sal “help waar hy kan” met die nuwe saak.

“Dis hoog tyd dat hierdie rugbymannetjies besef daar is gevolge vir hul dade.”

Meer oor:  Hendré Stassen  |  Louis Pienaar  |  Markus Botes  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.