Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
T-bene (of R500) vir ’n bottel

Een van die sogenaamde Waterkloof-4 erken hy het sigarette en drank in die inperkingstyd verkoop en verruil, maar ontken dit was saketransaksies.

Gert van Schalkwyk sê hy het niemand bedrieg nie. Foto: Deon Raath

Gert van Schalkwyk sê ook hy is onbewus van bewerings dat sy vriend en huurder, Stefan Nelson, sy vriende laat betaal het sonder om die produkte te lewer.

Van Schalkwyk het Vrydag in sy huis in die ooste van Pretoria aan Rapport gesê: “Toe lockdown begin, moes my ma haar eetplek, Die Vlakvark – waarin ek ook ’n aandeel het – toemaak.

“Ons het die drank en drie of vier TV’s hierheen gebring. Daar’s ’n convenience store, so sigarette ook.”

‘Drank en sigarette vir vriende, nie kliënte.’

Dit het bestaan uit “tussen 12 en 14 bottels drank en 10 tot 15 cartons sigarette”.

Van Schalkwyk is in 2005 saam met Christoff Becker, Frikkie du Preez en Reinach Tiedt daaraan skuldig bevind dat hulle ’n hawelose man se dood veroorsaak het toe hulle nog op skool was. Hulle is tot 12 jaar tronkstraf elk gevonnis en in 2014 op parool vrygelaat.

Van Schalkwyk en Nelson woon in dieselfde spogwoonbuurt waar Oscar Pistorius in 2013 vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

“Stefan het begin van lockdown by my ingetrek. Hy betaal R3 500 ’n maand en R2 000 vir groceries. Ek het gedink as ek die drank en sigarette vir genoeg kan verkoop om selfs net die DStv te betaal, help dit klaar,” sê Van Schalkwyk.

Gert van Schalkwyk en sy ma, Sarita, tydens die Waterkloof-4-saak.

Hy sê dit was nooit saketransaksies nie. “Dit was vriende, ek het nie kliënte gehad nie. Ek het nie geadverteer of aflewerings gedoen nie.”

Ruilhandel het ook mildelik plaasgevind. “Ek het vir T-bones, droëwors en rugstukke van ’n wildebees geruil. Wanneer ek verkoop het, was dit so R500 ’n bottel.” Sy voorraad was “ná twee of drie weke” op.

“Dit was ’n once-off,” sê Van Schalkwyk.

Hy ontken dat hy enigiemand na Nelson verwys het.

’n Foto wat Gert van Schalkwyk glo vir een van Rapport se bronne gestuur het om drank te adverteer.

“Ek is deur ’n spinnekop gebyt. Dalk het hierdie mense my in die hospitaal gebel, ek sal nie weet nie. Die bytplek het weer ingeval.”

Van Schalkwyk wys die gapende wond aan sy bobeen vir Rapport se verslagspan.

Nelson sê hy het niemand met opset bedrieg nie.

“Ek het nog drank en sigarette gekoop. Ek wou mense help en ’n ekstra geldjie maak. Dit het toe nie so uitgewerk nie,” sê Nelson.

Hy sê hý is ’n slagoffer. “ ’n Sigaretverskaffer in Kempton het geld gesteel. Ek kan dit bewys. Alles was elektronies betaal. Ek is besig om dit uit te sorteer.

Stefan Nelson sê hý is ’n slagoffer.

“Daar is so vier mense wat nie hul volle orders gekry het nie. ’n Paar wag vir refunds, maar ek het ander al terugbetaal of drank gegee.”

Oor bewerings dat hy vir ontevrede klante gesê het sy bankrekening is weens bedrog bevries, sê Nelson:

“Absoluut, ek kan jou wys,” en hark een van twee selfone nader.

Op Rapport se versoek noem hy dié vier mense.

Vier word vinnig ses, maar daar is nóg vier wat met Rapport gepraat het.

Een van hulle sê vriende het twee keer brandewyn by Van Schalkwyk bestel en dit gekry.

“Toe het Gert vir my gesê hy kan my na iemand verwys. Hy het gesê die ‘iemand’ en hy werk nie saam nie.

“Gert se naam beteken vir hom baie, maar hy wéét sy naam kan hom ook baie gou in die k*k drop,” sê die bron.

Sy drank van meer as R6 000 het nie opgedaag nie.

“Dan kom die geld, dan ’n bewys van betaling en dan is Stefan se selfoon weg.”

Nog een het R750 se sigarette bestel, maar niks gekry nie.

“Dan is sy selfoon stukkend, of sy bankrekening oor bedrog bevries . . .”

Nog een het meer as R5 000 verloor. “Sy stories verander heeltyd, dis asof hy vergeet wat hy sê.”

Só het hy al vergeefs gewag: “Stefan het gebel en gesê hy is minute van my huis af. As ek hom ná 20 minute bel, sê hy ek moet hom iewers kry. As ek hom daar bel, wag hy vir iemand in Kempton.”

Dié koper besef wat hy gedoen het, is onwettig, maar pleit om versagting.

“My skoonma is by my. Ek én sy rook en as ’n man se skoonma saam met jou lockdown, moet jy maar soms ’n drankie neem.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.