Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Taakspan moet kyk na landwye aanvalle op vragmotors
’n Vragmotor het Sondagoggend ook op die R59 by Vereeniging aan die brand geslaan.Foto: Facebook

Aanvalle op vragmotors is Sondag aangemeld in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes- en Oos-Kaap en Mpumalanga.

Die polisie in KwaZulu-Natal het vroegmiddag bevestig dat vragmotors en bestuurders vroegoggend veral tussen Durban en Pietermaritzburg aangeval is, maar geen beserings is aangemeld nie.

Dit sluit in Cato Ridge, die R103, Dalton, Bayhead, Mountain Rise, Mooirivier en die N3, waar vragmotors deur onbekende aanvallers aan die brand gesteek is.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie se operasies in die provinsie word opgeskerp sodat hulle meer sigbaar langs die paaie kan wees.

’n Taakspan is geskep om dié voorvalle te ondersoek en die publiek is gevra om na vore te kom met enige inligting oor die vermeende aanvallers.

Intussen is daar die oggend foto’s op sosiale media geplaas van ’n vragmotor, wat glo van Sasolburg onderweg was, wat op die R59 by Vereeniging aan die brand geslaan het.

In die Oos-Kaap, op die N2 naby Port Elizabeth, is bestuurders se vragmotorsleutels glo deur betogers afgevat.

Klik hier om video te sien.

Op die N11 by Ermelo is vragmotors blykbaar verhoed om verder te ry en is bestuurders se sleutels ook afgevat.

’n Vragmotor is vroeg Sondagoggend aan die brand gesteek en die bestuurder ernstig beseer nadat hy blykbaar met ’n petrolbom op die N1 buite Touwsrivier gegooi is. Foto: ER24

By Touwsrivier in die Wes-Kaap is ’n bestuurder en sy vragmotor vroegoggend op die N1 met petrolbomme bestook. Bernard Groenewald (50) van Huddlestone Transport is na die hospitaal op Worcester met erge brandwonde en ’n gebreekte enkel gebring.

’n Saak van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.

Groenewald en sy vrou se swaer het elk in ’n vragmotor gery en van die pad getrek om te rus.

Bernard Groenewald het Sondagoggend erge brandwonde opgedoen toe hy en sy vragmotor op die N1 naby Touwsrivier blykbaar met petrolbomme bestook is. Foto: Facebook

n Petrolbom is glo deur sy vragmotor se ruit gegooi terwyl hy geslaap het en hy is met nog ’n petrolbom bestook nadat hy uitgespring het en agternagesit is.

Die swaer se vragmotor het ook brandskade opgedoen, maar hy is nie beseer nie.

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het motoriste Sondag gewaarsku oor “ontwrigtende betogings en voorvalle van misdadigheid en pogings om die verkeersvloei te ontwrig” op dié pad.

Padgebruikers is aangeraai om eerder langafstandreise in die daglig aan te pak.

  • Verdagte gedrag of voorvalle kan by die N3TC se blitslyn by 0800 63 4357 aangemeld word.
  • Lede van die publiek met inligting oor die aanvalle op vragmotors en besonderhede oor die aanvallers kan Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.
vragmotors, aanvalle
    Meer oor:  Bernard Groenewald  |  Durban  |  N3  |  Touwsrivier  |  Brande  |  Vragmotors
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.