Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Taalreus Anton Prinsloo se stem stil

“Sy verbysterende taalkennis.”

Dit is wat Riaan Cruywagen, jare lange boesemvriend van dr. Anton Prinsloo, van die pas afgestorwe taalkenner onthou.

Op sy beurt sê Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal (WAT), Prinsloo se intelligensie, belesenheid en veelsydigheid as taalmens sal hom bybly, terwyl Fida Prinsloo, sy vrou, onthou hoe hy altyd die spanning met ’n grappie kon breek.

Anton Prinsloo Foto: Verskaf

Prinsloo, alombekende taalmeester, outeur en omroeper, is Dinsdagaand ná ’n lang siekte oorlede.

Hy was ook verbonde aan die taalkommissie.

“Daar is ’n paar dinge van Anton wat my sal bybly, maar sy verbysterende taalkennis is beslis nommer een,” het Cruywagen Woensdag gesê.

“Nie net sy Afrikaanse kennis was verbysterend nie, maar sy taalkennis. Hy het Engels, inheemse en internasionale tale ongelooflik goed geken.”

Dit was egter nie net Prinsloo se intellek wat ’n indruk op Cruywagen – wat sedert die middel-tagtigerjare met hom bevriend was, gewek het nie.

“Ek sal Anton se absolute beskeidenheid ook onthou. Hy het ’n formidabele kennis gehad, maar jy kon hom enige tyd van die dag of nag met ’n navraag bel en hy sou jou altyd help. As hy egter nie geweet het nie, sou hy vinnig sê hy weet nie, maar hy sal probeer vasstel.”

Prinsloo is ook aan sy humorsin geken.

“Dit was sekerlik sy mees uitstaande kenmerk,” het Cruywagen geskerts.

“Hy het telkemale met sy skerp reaksies sy kollegas en naastes laat lag. Hy het die snaakse raakgesien. Hy was maar net ’n blymoedige lewensgenieter met ’n lied in sy hart.”

Cruywagen vertel laggend dat daar baie staaltjies is wat hy van Prinsloo kan vertel, maar “dat dit dalk nie vir publikasie bedoel is nie”.

“Nie dat dit vuil is nie, maar laat ek dit so stel, geen gesprek met Prinsloo was sonder humor nie.”

Lombard onthou ook Prinsloo se humorsin.

“Ek het vir Anton leer ken as ’n mens met ’n wonderlike humorsin. Hy het ’n ongelooflike vermoë gehad om die korrekte woord te gebruik en te kies. Hy het ook dikwels ’n assosiasie met die woord gehad wat dikwels tot ’n grap kon lei, wat ’n moeilike vaardigheid is,” het Lombard gesê.

“Hy was ’n slim ou met ’n skerp brein. Sy ongelooflike algemene kennis het van hom ’n baie afgeronde mens gemaak.”

Volgens Lombard sal Prinsloo se boeke wat hy agterlaat en die werk wat hy met die standaardisering van Afrikaans gedoen het sy grootste nalatenskap wees.

“Ek en verskeie van my kollegas by die taalkommissie beskou Anton as ’n groot gees. Die groot gees het nou weggeraak en ons voel dit nogal,” het Lombard gesê.

Fida, Anton se vrou van 53 jaar, meen haar eggenoot se toewyding aan sy gesin sal haar altyd bybly.

“Dit was vir hom ook so lekker om navorsing te doen, en dit was vir my net so lekker om in die aande daarvan te hoor,” het Fida gesê.

“Ons was 53 jaar getroud en ons het vier kinders en nege kleinkinders, en dit is so wonderlik om dit te kan hê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.