Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tafelberg: Hommeltuig ingespan om na vrou te soek

’n Hommeltuig van die provinsiale nooddiens in die Wes-Kaap is Dinsdag ingespan in die soektog na ’n 48-jarige vrou van Gordonsbaai wat sedert Vrydag vermis word.

Colette Eksteen word sedert Vrydag vermis. Foto: Facebook/Bianca Gouws

Daar word tans op Tafelberg na Colette Eksteen gesoek nadat haar ligblou rugsak Sondagoggend op die Indië-venster-staproete gekry is.

Luidens ’n verklaring van Deanna Bessick, woordvoerder van die provinsiale nooddiens, is die hommeltuig om 08:35 ontplooi.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig Eksteen is nog nie opgespoor nie.

Veldwagters van die Tafelberg Nasionale Park help ook om na haar te soek, sê Lauren Howard-Clayton, Sanparke se streekwoordvoerder.

Intussen het Eksteen se dogter, Bianca Gouws, wat in die Vrystaat woon, Dinsdagoggend in Kaapstad aangekom om na haar ma te help soek.

Operateurs by die hommeltuig wat Dinsdagoggend in die soektog gebruik is.

Gouws is rasend van bekommernis nadat haar ma Vrydag in ’n briefie aan haar kêrel gesê het sy is op ’n “missie” na Tafelberg. Eksteen het glo te voet die pad gevat in die rigting van Stellenbosch, waar haar kêrel haar langs die R44-pad gekry het.

Sy het glo net ’n entjie saamgery en toe uit sy voertuig gespring en weggehardloop. Eksteen se selfoon is sedert Vrydag af.

Die Indië-venster-roete is een van die mees direkte roetes na die drie hoofklimplekke op Tafelberg en loop onderdeur die kabelkarretjie.

Armani Minani van Rondebosch en sy vriende Keenan Rishworth en Dominique Anderson het die roete Sondagoggend gestap en die blou rugsak naby een van die boonste bakens op die roete gekry.

“Ons het vir ’n naam of kontaknommer gesoek, maar daar was net ’n boekie genaamd The Vision, ’n opgefrommelde pakkie skyfies, ’n waterbottel wat byna leeg was en ’n klompie briewe in.”

Armani Minani van Rondebosch en sy vriende Keenan Rishworth en Dominique Anderson met die rugsak wat hul opgetel het. Hulle het in dié stadium nie geweet die sak behoort aan ’n vermiste persoon nie.

Minani sê hulle het nie geweet iemand word vermis nie en het geroep om te hoor of iemand hulle dalk hoor en hulp nodig het.

“Ons sou hulle afgehelp het as ons iemand gehoor het,” sê hy.

Hulle het die sak by die Tafelberg-sweefspoor se kantoor vir verlore goedere ingegee.

Die plek waar Armani Minani die rugsak op Tafelberg gekry het.

Intussen het hulle op Facebook uitgevind dat Eksteen vermis is. Minani sê hy het Maandag met Gouws kontak gemaak en sy het bevestig dit is haar ma se rugsak.

“Ek hoop van harte sy is oukei. Ons bid net vir goeie nuus.”

Bessick sê Eksteen is Vrydag gesien toe sy op die berg gestap het.

Meer oor:  Kaapstad  |  Hommeltuig  |  Tafelberg  |  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.