Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Talle laagvlugte voordat man in klubhuis vasploeg

Die Suid-Afrikaanse vlieënier wat Saterdag met ’n vliegtuig in ’n vliegklubhuis en lugbeheertoring in Botswana vasgevlieg het, het verskeie kere uit verskillende rigtings laag verby die gebou gevlieg voordat hy daarin vasgeploeg het. Hy is dood.

Die Matsieng-vliegklub in Botswana in ligte laaie nadat 'n vliegtuig daarin vasgevlieg het. Foto: FACEBOOK

Charl Viljoen (37) was ’n kommersiële vlieënier by Kalahari Air Services in Botswana. Hy en sy vrou, Natasha (32), was saam in die Hoërskool Zeerust in Noordwes.

Natasha het Saterdag ’n ooievaarspartytjie van ’n vriendin in die Matsieng-vliegklub se klubhuis bygewoon. Dit is in Rasesa, sowat 40 km noord van Gaborone in Botswana.

Luidens ’n verklaring van die Matsieng-vliegklub het Charl as ’n "ongenooide gas" by die ooievaarspartytjie opgedaag.

Mark Mansfield van die Matsieng-vliegklub sê gerugte wil dit hê dat Viljoen en sy vrou rusie gemaak het. Dit is nie duidelik waaroor die beweerde rusie was nie.

Naruschka Winter, Natasha se suster, hou egter vol dat daar nié ’n bakleiery was nie. Winter sê sy wil nie uitwei oor wat gebeur het nie. Die egpaar het ’n sewejarige seun.

Van die gaste het daarop aangedring dat Viljoen die partytjie moet verlaat. Hy het toe in sy motor na die Sir Seretse Khama Internasionale-lughawe in Gaborone gery, waar Kalahari Air Services gesetel is.

Dit is onduidelik hoe Viljoen toegang tot die Beechcraft King Air B200-vliegtuig gekry het.

Charl Viljoen (37) Foto: FACEBOOK

Mansfield sê Viljoen het nie toestemming gehad om met vliegtuig te vlieg nie. Dit is ’n 2016-model.

Omstreeks 18:15 het die vliegtuig opgestyg en in die rigting van die Matsieng-vliegklub gevlieg.

"Die vlieënier het ’n aantal lae verbyvlugte uit verskillende rigtings verby die klubhuis en naby die lugbeheertoring gedoen," sê Mansfield.

Viljoen het ’n vriend van hom, wat by die klub was, uit die vliegtuig gebel. Dié man het onraad vermoed nadat hy met Viljoen gepraat het, en geskree dat almal in die klubhuis moet uitkom. Sowat 50 mense het die klubhuis verlaat.

In ’n video wat van een van die verblyvlugte geneem is kan gehoor word hoe iemand in Engels sê: "f*k hom".

’n Rukkie later het die vliegtuig die klubhuis getref. Die lugbeheertoring is ook in die vlammehel verwoes. 13 voertuie wat by die klubhuis geparkeer was, het uitgebrand.

"Die laaste baie lae verbyvlug langs landingstrook 36 het geëindig met die vasvlieg in die klubhuis," sê Mansfield.

Niemand anders is beseer nie. Die Kgatleng-distriksraad se nooddienste is na die toneel. Die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.

Mansfield sê ’n ondersoek word na die voorval gedoen.

Die Matsieng-vliegklub in Botswana se klubhuis is verwoes toe 'n vliegtuig daarin vasgevlieg het. Foto: FACEBOOK
Uitgebrande voertuigwrakke by die Matsieng-vliegklub. Foto: FACEBOOK
Wrakstukke van die vliegtuig by die Matsieng-vliegklub in Botswana. Foto: FACEBOOK
Meer oor:  Natasha Viljoen  |  Charl Viljoen  |  Botswana  |  Vliegtuigongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.