Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Talle treur op begrafnis van leraar wat homself hang
Ds. Henk Calitz van die Nederduitsch Hervormde kerk in Carletonville doop ’n baba. Foto: Verskaf

Geen mens is van hartseer, benoudheid en angs gevrywaar nie, maar God is sterker as ons hartseer.

Dít is deel van die boodskap wat ds. Marius Kramer Dinsdag op die roudiens van sy kollega, ds. Henk Calitz (40), in die Nederduitsch Hervormde kerk in Carletonville gelewer het.

Calitz het hom op 19 Junie in ’n gebou langs die kerk gehang. Dié gebou sluit by die kerkgebou aan.

Sy vyf kinders, onder wie die tweelingseuns, Drikus en Benja (9), het hardop gehuil toe hulle ná die diens uit die kerk stap terwyl die orrelis die lied Amazing Grace speel.

Die roudiens is op die kerk se Facebook-blad uitgesaai en op vyf plekke in Carletonville op grootskerms gewys omdat slegs 50 mense volgens die Covid-19-regulasies vir begrafnisse in die kerkgebou toegelaat is.

Ds. Henk Calitz (40), 'n leraar van die Nederduitsch Hervormde kerk in Carletonville in Gauteng het meer as 'n week gelede sy eie lewe geneem. Foto: Facebook/Henk Calitz
En eendag as dit stil word en ek niks meer kan voel nie, sal ek sonder twyfel sê, ek het. Ek kan sonder tywfel sê Henk HET.

Kramer sê Calitz was ’n merkwaardige man met ’n borrelende geaardheid wat diep vir sy medemens omgegee het.

’n Groot foto van Calitz het voor in die kerkgebou tussen blomruikers van proteas en rooi flaminklelies gestaan.

Kramer het uit 2 Konings in die Bybel gelees en Calitz vergelyk met die profeet Elia.

“Net soos Elia was Henk ’n kragtige leier, maar hy het ook ’n brose kant gehad. Hy het soms moeg geraak en weerloos gevoel. Henk was vir baie van ons ’n Elia.”

Kramer sê Calitz was sy leermeester en mentor en dat sy verhouding met die Here die kern van sy bestaan was.

Hy sê Calitz het in die staat van nasionale inperking ’n verskil gemaak toe hy op 24 April by ’n padversperring op pad na Parys in die Vrystaat deur die polisie afgetrek is en gevra is om ’n gebed te doen.

“Ek weet nie of die liewe Heer my Engels lekker verstaan het nie, maar die kaptein het sy span bymekaargeroep en ek het toe vir hulle gebid,” het Calitz destyds aan Netwerk24 gesê.

“Hy het ook in die inperking vir behoeftiges geld ingesamel waar die nood groot is,” sê Kramer.

“Hy het baie mense opgetel wanneer die lewe hulle platgeslaan het.”

‘n Briefie wat Martie Calitz vir haar man, ds. Henk Calitz, geskryf het. Foto: Verskaf
Die blomruikers in die Nerderduitsch Hervormde kerk in Carletonville waar ds. Henk Calitz, se roudiens Dinsdag gehou is. Foto: Facebook/Aletta du Preez
Hy het baie mense opgetel wanneer die lewe hulle platgeslaan het.

Huldeblyke van so ver soos Amanzimtoti aan die KwaZulu-Natalse suidkus het op Facebook ingestroom terwyl die kerkdiens uitgesaai is.

Dawid Nel, ’n boesemvriend van Calitz, het aan Arisa Janse van Rensburg gesê Calitz moes baie op sy skouers dra.

“As ’n gemeente 500 mense het, het ’n kwart elke week by hom kom kla en hy kon dit nie met ander deel nie,” sê Nel.

Hy wou nie kommentaar lewer oor of Calitz aan depressie gely het nie.

“Ons het maar almal ons hoogte- en laagtepunte.”

Ds. Henk Calitz en sy vrou, Martie. Foto: Facebook/Henk Calitz

Hennie Calitz, Henk se pa, het sy trane met ’n sakdoek afgevee toe hy ná die roudiens in die kerkgebou almal bedank het wat die diens bygewoon het.

“Dit is ’n bitter hartseerdag vir my. Ons glo hy is vandag by die Vader.”

’n Huldeblyk van Calitz se dogters lui: “Jou voetstappe is stil in die huis, ons verlang na pappa se stem. Jy het ons geleer dat die lewe dikwels wreed kan wees en dat die beste manier om dit te hanteer is om te lag en kosbare oomblikke te koester. Pappa het ons geïnspireer om die wêreld ’n beter plek te maak.”

Ds. Henk Calitz en sy vrou, Martie, van Carletonville. Foto: Facebook/Henk Calitz

Sy vrou, Martie, het in haar huldeblyk geskryf: “Ons gaan jou baie mis, Boka. (sic)” Die egpaar het vyf kinders.

Kramer het die diens afgesluit met die woorde: “Mag ons almal dubbeld die mens wees wat Henk Calitz was.”

Hy het die woorde van die lied “Ek het” van die sangers Laurika Rauch en Bok van Blerk gelees. “En eendag as dit stil word en ek niks meer kan voel nie, sal ek sonder twyfel sê, ek het. Ek kan sonder twyfel sê Henk HET.”

Leerlinge van verskeie skole in Carletonville het in hul skoolklere ’n erewag in die straat buite die kerk gevorm, terwyl motorfietsryers die enjins laat brul het terwyl hulle voor die wit lykswa ry.

Kyk hier na die gedenkdiens.

Meer oor:  Henk Calitz  |  Carletonville  |  Begrafnis  |  Hang  |  Predikant  |  Kerksaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.